Die afgelope vyf weke sedert die ondergrondse modderstorting op 17 Februarie by die Ekapa-myn in Kimberley het die families, vriende en elkeen wat dié vyf vermiste mans geken het, na alle waarskynlikheid wisselende emosies van hoop, wanhoop, hartseer, angs en onsekerheid beleef.
Almal wat van die ramp gehoor het, het op ‘n wonderwerk gehoop: dat die mans ongedeerd gevind word; dat hulle weer by die huis sal instap; dat hul stem weer gehoor sal word; dat hul geliefdes hulle weer sal kan vasdruk; dat die lewe weer op ‘n bekende pad sal voortgaan.
Maar dae nadat die uitdagende ondergrondse soektog begin het en vrugteloos voortgeduur het, het wanhoop, angs en onsekerheid ingetree – omring deur ‘n allesoorheersende hartseer.
LEES OOK: Ekapa: Minister fokus op ondersoek wyl vakbond strafregtelike stappe eis
‘n Mens het – in algehele onkundigheid oor hoe myngange en -tonnels is so ‘n ondergrondse modderstorting lyk en met ‘n eie voorstelling van soek-en-reddingspogings in die teenwoordigheid van water, massas modder en rotse – jou afleidings oor die waarskynlike uiteinde gemaak.
Tog het ‘n mens bly hoop vir redding, vir ‘n wonderwerk en dat die oorheersende hartseer in blydskap kan verander.
‘n Mens het aan die George-bouramp in Mei 2024 gedink toe ‘n halfvoltooide woonstelgebou op 62 konstruksiewerkers en ander betrokkenes ineengestort het. Reddingswerkers het dae lank gewerk om oorlewendes tussen tonne puin te red, en om die liggame van die 34 oorledenes te herwin.
In wat beskryf word as ‘n wonderwerk is ‘n man wat 116 uur onder die puin vasgekeer was – van die Maandag tot die Saterdag – lewend gevind.
Ook het ‘n mens onthou van die ineenstorting in 2010 in ‘n kopermyn in Chili waarin 33 mynwerkers 700m ondergronds en 5km van die ingang vasgekeer is. Hulle kon veilig ‘n ondergrondse noodskuiling bereik waarin noodvoorraad geberg was. Hoewel dié voorraad vir ongeveer drie dae bedoel was, het hulle dit streng gerantsoeneer en twee weke daarmee uitgekom. Teen daardie tyd is hul ligging bepaal en is kos- en ander voorrade in smal tonnels na hulle afgestuur. Hulle almal het 69 dae later die myn lewendig verlaat.
Die Ekapa-modderstorting het die lewe en omstandighede van soveel mense verander. Mag hoop en genade uit hierdie hartseer-omwenteling groei.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


