SP Tredoux van Agri Wes-Kaap is bekommerd oor die styging in brandstofpryse.
SP Tredoux van Agri Wes-Kaap is bekommerd oor die styging in brandstofpryse.

Suid-Afrikaners staal hulle vir ’n moontlike brandstofskok in April. Indien verwagte prysstygings ’n werklikheid word, sal dit na verwagting die skerpste styging in brandstofpryse in die land se geskiedenis wees.

Weens die prys van ru-olie, wat sedert die begin van die voortslepende militêre konflik in die Midde-Ooste met sowat 40% gestyg het, en die rand/dollar-wisselkoers, kan die pryse van diesel en petrol moontlik onderskeidelik met R7 en R4 per liter styg.

Die brandstofprys raak elke aspek van die lewe, selfs toerisme. Foto: Danie Hefers

Vrese dat die land selfs moontlik binnekort ’n ernstige brandstoftekort in die gesig staar, word nou deur sommige kenners geopper.

Weslander het by sakekamers en landbouorganisasies gaan kers opsteek oor die impak van dié verwagte prysstygings op Weskussers.

Volgens Gary Badenhorst, voorsitter van die Weskus Sakekamer, hou die vinnig-stygende prys van Brent-ruolie beduidende gevolge in vir plaaslike ekonomieë in die Saldanhabaai-gebied, wat afhanklik is van vervoer, nywerheid, vissery en hawebedrywighede.
“Ek is ’n veteraan van die bedryf en het nog nooit ervaar wat nou op ons afstorm nie,” sê Badenhorst.

Hy verduidelik dat Saldanha ’n hawe- en nywerheidsdorp is waar ekonomiese bedrywighede afhanklik is van die vervoer van goedere per pad, see en spoor. “Wanneer brandstofpryse styg, neem kostes van goedere en dienste toe. Dit raak logistieke kostes direk en lei tot verhoogde skeeps- en visserybedryfskostes. Kleinhandelaars betaal meer vir aflewerings, boere en produsente betaal meer om produkte te vervoer, en ekstra kostes word weer aan verbruikers oorgedra. Taxi-tariewe en pendelkostes neem toe, en gesinne het uiteindelik minder beskikbare en besteebare inkomste.”

Badenhorst se kommer oor die verwagte prysstygings word ook gedeel deur ander sakekamers in die Weskus.

Volgens Johnny Da Silva, voorsitter van die Velddrif Sakekamer, is besighede uiters bekommerd oor die verwagte brandstofpryse. “Brandstof is nie net ’n vervoersaak nie. Duurder diesel en petrol raak uiteindelik die pryse van alle produkte en dienste in die dorp,” sê Da Silva.

Hy beklemtoon dat die land se afhanklikheid van ingevoerde energiebronne kommerwekkend is. “Dit beteken dat internasionale onstabiliteit vinnig ’n plaaslike sakeprobleem word. Ek ondersteun dus hernieubare energiebronne soos sonkragprojekte, wat die gebied se afhanklikheid van wisselvallige globale brandstofmarkte kan verminder tot voordeel van besighede, werksgeleenthede en verbruikers in Velddrif.”

Volgens Stoan Bartel, voorsitter van die Sakekamer in St Helenabaai, is dié sakekamer ook uiters bekommerd oor die moontlike uitwerking van ’n skerp brandstofstyging op plaaslike ondernemings en die breër ekonomie. “Daar is ’n risiko dat voortgesette brandstofprysstygings aktiwiteite in die plaaslike ekonomie negatief kan beïnvloed. Stygende vervoerkoste plaas weer druk op verbruikers, wat weer lei tot ’n afname in besteding in sektore soos eetplekke, kleinhandel en toerisme.”

Die verwagte dieselprysstyging is ook slegte nuus vir die land se landbou-, bosbou-, vissery- en mynbousektore.

Die visbedryf in die Weskus gaan veral geraak word deur duurder dieselpryse. Foto: Danie Hefers

Volgens SP Tredoux, streekbestuurder van Agri Wes-Kaap in die Weskus, is die moontlike styging kommerwekkend vir die landbou. “Boere word reeds tans lamgelê deur verskeie faktore in die ekonomie, en diesel is een daarvan. Bek- en Klouseer is reeds ’n uitdaging, terwyl die huidige hittegolf wat skaapboere se lammers raak, ook eise aan boere stel. Melkplase gebruik diesel vir hulle kragopwekkers wanneer nodig. Indien die moontlike styging realiseer, kan ’n boer wat sowat 100 000 liter diesel per jaar gebruik, ’n styging van meer as ’n halfmiljoen rand in sy dieseluitgawes verwag.”

Tredoux noem dat die stygende koringprys en dieselrabat ’n ligpunt vir boere bied. “Boere sal egter moet kyk waar hulle kan bespaar. Alles ry so op mekaar. Ons kan nie nóg houe vat nie. Om onder hierdie blou dak te boer, is nie maklik nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article