Mieke Carr, ‘n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Strand, het in Oktober as deel van die Suid-Afrikaanse span aan die UDC Grand Championship in Dundalk, Ierland, deelgeneem.
Dié talentvolle danser het talle pryse in die kompetisie gewen, waaronder goud in die 16-en-jonger- gevorderde jazz-afdeling; wenner van die senior improvisasie-afdeling; Showstopper-
wenner (ontvanger van die Golden Buzzer-prys); en die senior gevorderde danser wat die meeste punte aangeteken het.

Mieke is ook as die kompetisie se algehele wenner – UDC Advanced Grand Champion – aangewys, met haar prys wat geborgde opleiding by die Broadway Dance Centre in New York insluit.
Op plaaslike bodem het Mieke tydens die onlangse skoolvakansie aan die Elements of Dance- nasionale kompetisie in Sasolburg deelgeneem en daar ook die pryse ingeryg. Sy het in die ouderdomsgroep vir 15- tot 17-jariges eerste geëindig en goud in elke moontlike styl – van akrobaat tot hip-hop en jazz – gewen. Sy is ook as die algehele nasionale Grand-kampioen aangewys en het die Oakfield’s College Volgende Gen-prys ontvang.
Mieke is by die Huisgenoot-eisteddfod as die algehele wenner in die dansafdeling vir gr. 8- tot gr. 10-leerders aangewys.
Dié bondeltjie ritme het ook in die Move- nasionale kompetisie, die AIDT-kompetisie, die Conquerer-kompetisie en die Revibe Dance-kompetisie skoonskip gemaak met titels soos Danser van die Jaar, Beste Tienersolo en Conquerer van die Jaar.



