Die Hoërskool Strand se danssensasie Mieke Carr is as die UDC Grand Champion in Ierland aangewys.
DistrictMail & Helderberg Gazette

Strand se Mieke dans al die pad tot in New York

Die Hoërskool Strand se danssensasie Mieke Carr is as die UDC Grand Champion in Ierland aangewys.

Mieke Carr, ‘n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Strand, het in Oktober as deel van die Suid-Afrikaanse span aan die UDC Grand Championship in Dundalk, Ierland, deelgeneem.

Dié talentvolle danser het talle pryse in die kompetisie gewen, waaronder goud in die 16-en-jonger- gevorderde jazz-afdeling; wenner van die senior improvisasie-afdeling; Showstopper-

wenner (ontvanger van die Golden Buzzer-prys); en die senior gevorderde danser wat die meeste punte aangeteken het.

Mieke betower die beoordelaars met haar danspassies.

Mieke is ook as die kompetisie se algehele wenner – UDC Advanced Grand Champion – aangewys, met haar prys wat geborgde opleiding by die Broadway Dance Centre in New York insluit.

Op plaaslike bodem het Mieke tydens die onlangse skoolvakansie aan die Elements of Dance- nasionale kompetisie in Sasolburg deelgeneem en daar ook die pryse ingeryg. Sy het in die ouderdomsgroep vir 15- tot 17-jariges eerste geëindig en goud in elke moontlike styl – van akrobaat tot hip-hop en jazz – gewen. Sy is ook as die algehele nasionale Grand-kampioen aangewys en het die Oakfield’s College Volgende Gen-prys ontvang.

Mieke is by die Huisgenoot-eisteddfod as die algehele wenner in die dansafdeling vir gr. 8- tot gr. 10-leerders aangewys.

Dié bondeltjie ritme het ook in die Move- nasionale kompetisie, die AIDT-kompetisie, die Conquerer-kompetisie en die Revibe Dance-kompetisie skoonskip gemaak met titels soos Danser van die Jaar, Beste Tienersolo en Conquerer van die Jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article