‘n Oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje wat deesdae in Somerset-Wes woon en in Mei haar nuwe kosboek in Bloemfontein kom bekend stel het, het ‘n internasionale prys vir dié boek verwerf.
Elmarie Berry se nuutste boek, The Table, is verlede week op die toekenningsgeselligheid van Gourmand World Cookbook Awards as die die beste Mediterreense kosboek in die wêreld aangewys.
Sy het dié prys op Woensdag 18 Junie in Estoril, Portugal, in ontvangs geneem.
“Ek is ongelooflik trots, en kan dit skaars glo dat The Table die gesogte prys gewen het,” het sy oor die prys gesê.
Daar was inskrywings van 82 lande oor die wêreld heen.

“Om op daardie wêreldverhoog te kon staan en Suid-Afrika te verteenwoordig, was ‘n emosionele en onvergeetlike oomblik,” sê Elmarie.
Die Gourmand-eerbewyse is soos die Oscars van die kookboekwêreld. Dit vereer die beste kosboeke, kosfotografieboeke en kulinêre publikasies van oor die wêreld heen. Slegs die uitblinkers word bekroon.
Dat Elmarie se boek gewen het, beteken The Table word as die beste Meditereense kookboek in die wêreld beskou.
“Dis wêreldwye erkenning en ‘n eer wat bevestig dat jou werk op die hoogste internasionale vlak is.”
Elmarie dra die eerbewys op aan elkeen wat al uit dié kookboek gekook het, aan haar tafel gesit het en ‘n pad van ondersteuning in haar droom geloop het.

In The Table kombineer sy Suid-Afrikaanse resepte met ‘n Libanese invloed.
Elmarie glo dat daar ‘n foto van elke resep in die boek moet wees, so nie net is die resepte oorspronklik en relatief maklik nie, die foto’s wat sy self geneem het, is pragtig.
Nóg Suid-Afrikaanse skrywers wat by die Gourmand-toekennings vereer was is:
• Beste erkenning van die jaar – Recipes to Die Live For: A Tannie Maria Cookbook deur Sally Andrew
• Beste bekende sjef kookboek – Food Trail South Africa deur Warren Mendes
• Beste dieetboek – The South African Guide to Gluten-Free Baking deur Zorah Booley Samaai
• Beste kos- en drankboek – The Great Marula Menu with The Lazy Makoti and J’Something
• Beste Latyns-Amerikaanse kookboek gepubliseer buite Latyns-Amerika – Mexico in Mzansi deur Aiden Pienaar
• Beste van die beste – koskultuur – Simply Seven Colours deur Zola Nene
Al die Suid-Afrikaanse wenboeke word uitgegee deur Penguin Random House Suid Afrika.
Die Gourmand-toekennings, wat in 1995 gestig is en met deelname van meer as 200 lande, is die enigste internasionale kompetisie gewy aan publikasies oor kos- en drankkulture. Die kompetisie is gratis en oop vir alle tale. Elke jaar organiseer Gourmand ‘n wêreldwye simposium op ‘n plek van noemenswaardige gastronomiese relevansie, wat toonaangewende stemme uit die diplomasie-, kulinêre, uitgewers- en kulturele sektore bymekaarbring.
You must be logged in to post a comment.