“Surround yourself with people who believe in your dreams, encourage your ideas, support your ambitions, and bring out the best in you.” – Roy T. Bennett, The Light in the Heart
So sing Budgie Blou elke oggend sy hart uit. Hy oefen elke noot, die nuanse.
Tussendeur skryf hy lirieke, maar dit gaan moeiliker as wat hy gedink het. Eers moet hy sy stem regkry.
Hy het opgelees ‘n stem is ‘n instrument wat binne in, sy nou meer fris, lyf sit.
Hy moet met sy maag asemhaal gedurende sang, hy moet die lug beheersd uit sy longe laat sodat sy stem oor die werf en straat kan weerklink.
Hy moet ook sy konsonante en klinkers mooi vorm, wat nie maklik is met ‘n voëlbek nie, maar hy sal dit regkry.
Skreeu wil hy nie, nee, sy stem moet deur sy neusholtes, sy oogkaste vibreer vir die beste sang. En sy stem moet nie breek nie.
Tot nou het hy bekende liedjies gesing, maar sodra sy lirieke reg is, kan hy meer gevoel en emosie insit. Hy glo in sy lirieke, in sy storie van vryheid wat hy gaan sing. Hier sag, daar hard, alles moet sy storie weergee.
Dit het hy nou al besef.
Hy sal een of ander tyd met Muisvoël, Jan Frederik en Lyster moet praat, hulle oortuig oor sy plan. Muisvoël se kuif, sy hele look sal werk vir dit wat Budgie Blou beplan. Daai rocker kuif van hom, die lang stert. En die ander twee het goeie stemme. Miskien sal hy Tip Tol ook nader.
Hy gaan hulle oortuig om ook hul wêreld te verbreed.
Tot nou het hulle net rond gesit, gevreet, gevlieg en geslaap.
Hulle moet die ambisie in hulself vind, en hy sal hulle dit help ontdek.
- Lees nog skrywes oor Budgie Blou hier.





