KAMEELDORING | Kapokhaantjie begin vlerke uitsprei om haan te word

Wanneer kapokhaantjie haan word
Voordat Boetman se beterwete totaal oorneem, probeer Rooyma haar stempel afdruk. FOTO: Unsplash / National Gallery of Art (ter illustrasie)

KAMEELDORING | Kapokhaantjie begin vlerke uitsprei om haan te word

Wanneer kapokhaantjie haan word
Voordat Boetman se beterwete totaal oorneem, probeer Rooyma haar stempel afdruk. FOTO: Unsplash / National Gallery of Art (ter illustrasie)

“Oudword is nie vir sussies nie,” lui die spreekwoord. Kinders se grootword ook nie. Nie alleenlik het Boetman 10 cm in agt maande gegroei nie, maar hy trek die skaal ook 10 kg verder. Opgewonde het die 11-jarige hom teen sy Rooyouma se rug uitgerank toe sy en Rooyoupa by die pastorie voet aan drumpel gesit het.

Rooyma se vermoede dat Boetman nie net in lengte gegroei het nie, is die volgende Sondag in die kerk bevestig. Hy het ‘n wyer spasie op die kerkbank as voorheen ingeneem – nie vanweë sy sitvlak nie, maar sy breër skouers.

In die einste erediens het die kapokhaantjie sowaar ook sy hand suutjies onder sy ma s’n probeer wegtrek – haar grootoë ten spyt. Dieselfde groot oë, maar met ‘n heel ander gemoedstemming, toe hy een aand sy voet met hare vergelyk, en ma en seun se voete ewe lank blyk te wees.

Later die week besef Rooyma ook Boetman het ‘n heserigheid aan hom. Voordat sy die Med-Lemon kon nader trek, maak Rooypa sy keel skoon en gee sy dink-nou-bietjie-mooi-kyk.

“Hy word ouer, Mamma. Hy kan nie jou sopraan-engeltjie vir ewig bly nie.”

Ouma Lappies vertel van die kantlyn dat haar plaashaan, Hennie, bykans oornag Hen geword het toe sy krakerige kraaipoging tot vervulling gekom het en hy meteens die plaasmense uit hul slaap begin wek het.

Omdat Rooyma wil hê haar seun(tjie) moet met waardes grootword en ‘n jintelman wees voordat hy die huis verlaat, gaan sy grootwordjare nie sonder gebed, vermanings en grootoë gepaard nie. In die doodsnikke voordat sy eie beterwete totaal oorneem, probeer Rooyma angstig haar stempel afdruk en haar stem laat geld.

“Ruik lekker, wees behulpsaam en jy bly altyd ons kind,” weergalm in die haantjie se hoorarea – en hopelik in sy toekoms – voordat hy haan van sy eie mishoop kraai.

LEES OOK: Rooyouers pluk ‘n lat vir hulself met noodgedwonge witleuentjies

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article