Rooyma weet witleuentjies is seker nie reg nie, maar die hele definisie daarvan steun tog op die idee dat dit noodgedwonge om ‘n noodgeval gaan. Hoewel Ouma Lappies altyd waarsku dat die leuen kort beentjies het, is dit selfs nog korter as kinders in die prentjie is.
Een so ‘n mite in die Rooyhuis is: “As jy nie hare kam nie, kan jy nie dink nie.”
Natuurlik moes Sussie dit op ‘n Saterdag – die enigste laatslaapoggend in die week – onthou.
Verwoed en desperaat skree sy haar ma uit droomland, want sy wil teken en daarvoor moet sy kan dink.
Half deur die slaap probeer haar ma haar hare kam, voordat Kleinste ongevraagd inval: “Jy trek my hare. Hou op dink dit is ‘n speelding.”
Dieselfde trant van witleuentjie het ook al op die Rooyouers geboemerang wanneer Kleinste op die onmoontlikste tye haar ore skoongemaak wil hê sodat sy kan “hoor”.
Daarteenoor het Rooyma een oggend spontaan vir Boetman gewaarsku dat sy vinger in sy oor gaan vassit toe sy hom, onder Bybellees, in so ‘n posisie betrap. Net om later self onnadenkend haar jeukende oor met haar wysvinger te verlig.
As verdere motivering dat die Rooykinders hul groente moet eet, het Rooyma Oudste sover gekry om te glo dat sy groeiseisoen van sy Sondagmiddaggroente-eet afhang. (Eerder afwurg op Sondagmiddae, wanneer hy en sy suster ‘n teelepel van alles op die tafel moet eet.)
Nou gaan daar kwalik ‘n Sondag verby dat hy nie wortelslaai of pampoentert vereis nie.
Hoekom kinders ook net sommige goed op sulke oomblikke kan onthou, weet nugter. Maar dan besef Rooyma: Dit is wat familie doen. Familielede vang mekaar uit en help mekaar reg – selfs al kos dit ‘n witleuentjie of ‘n ouvroustorie wat geen wetenskaplike grondslag het nie.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.




