Shaneka Johnson
Shaneka Johnson

ATLANTIS – “Dit gaan ’n lang pad na herstel wees, maar ek bly positief,” het die 25-jarige Shaneka Johnson vanuit haar hospitaalbed in die Tygerberg-hospitaal se brandeenheid vertel.

Haar lewe is meer as twee weke gelede in ’n hel van pyn verander toe ’n bottel suur op Sondag 15 Maart oor haar kop uitgegooi is. “Die verdagte het my beskuldig dat ek sy selfoon gesteel het,” verduidelik sy in erge pyn.

“Ek het verduidelik dat ek nie sy selfoon geneem het nie, maar hy wou niks hoor nie.” Sy het haar selfoon vir dié vriend van haar oorlede kêrel gewys, maar hy het volgehou dat sy sy selfoon geneem het.

Shaneka Johnson het uit haar hospitaalbed vertel wat die “suurmonster” aan haar gedoen het.

“Die volgende oomblik het my kop begin brand en het ek die mees ondraaglike pyn ervaar,” vertel sy. Die verdagte, Alvin “Lippe” Smith (38), het Maandag 30 Maart in die hof verskyn en sal weer Woensdag 1 April om borgtog aansoek doen.

Volgens Shaneka moet dokters nog besluit of slegs die helfte van haar oor verwyder gaan word, of die hele oor. Sy het ook beserings aan haar kop, rug, nek, been en arm. Verder moes haar hare boonop afgeskeer word, sodat dokters die skade van die brandwonde – tot op die skedel – kon bepaal.

Shaneka Johnson wys wat die suur aan haar liggaam gedoen het.

Volgens Melvina, Shaneka se ma, is sy baie bekommerd dat geregtigheid haar kind ontneem gaan word. “Ons het in die hof gehoor dat dit slegs my kind se verklaring in die dossier is en dat daar nie ’n J88 is om die erns van die beserings aan te dui nie. Daar is ook nie verklarings van dokters en getuies nie, wat beteken die ‘suurmonster’ kan moontlik op borg vrygelaat word.

“Ons moes die dokters by Tygerberg vra of sy net vir die naweek ontslaan kan word sodat sy ’n verklaring kan aflê, omdat sy geen besoek van die polisie in die hospitaal ontvang het nie,” vertel die familie, erg ontstoke.

  • Volgens ScieLo SA, is ‘n J88-vorm ‘n belangrike medies-regsdokument wat gebruik word om amptelik forensiese bewyse van beserings as gevolg van fisiese aanranding, seksuele geweld of ander misdade op te teken. Dit word deur ‘n mediese professionele persoon voltooi en vertaal kliniese bevindinge in regsgetuienis om vervolging te ondersteun en die omvang van beserings in die hof te bewys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article