Talle dooie sardyne is op Melkbosstrand se strand aangetref. Die oorsaak van die vrektes word ondersoek.
Talle dooie sardyne is op Melkbosstrand se strand aangetref. Die oorsaak van die vrektes word ondersoek.

Herpesvirus moontlik oorsaak van sardynvrektes langs kus

Talle dooie sardyne is op Melkbosstrand se strand aangetref. Die oorsaak van die vrektes word ondersoek.
Talle dooie sardyne is op Melkbosstrand se strand aangetref. Die oorsaak van die vrektes word ondersoek.

KAAPSTAD – Laboratoriumtoetse het bevestig dat genetiese materiaal van die sardyn-herpesvirus (PHV) in getoetste sardyne teenwoordig was, sê die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing in sy jongste mediaverklaring (14 Augustus) oor die grootskaalse sardynvrektes wat vroeër dié maand in Suid-Afrikaanse kusgebiede voorgekom het.

Berigte en waarnemings van wydverspreide sardynvrektes langs verskeie dele van die Wes-Kaapse kus, vanaf Saldanha in die Weskus tot by Gansbaai in die Overbergstreek, is deur die departement ondersoek. Verslae is ontvang van vis wat uitspoel, terwyl dooie en sterwende sardyne wat op die see ronddryf, tot agt seemyle vanaf Houtbaai opgemerk is.

Die rol wat PHV in die onlangse sardynvrektes gespeel het, word egter steeds ondersoek. PHV is in beide dooie sardyne en, teen laer vlakke, in sommige oënskynlik gesonde sardyne wat aan die Weskus versamel is, opgespoor. “Dit dui daarop dat die blote teenwoordigheid van die virus moontlik nie voldoende is om massavrektes te veroorsaak nie.”

Nog sardyne het op die strand uitgespoel. Foto: Pete Oxford
Nog sardyne het op die strand uitgespoel terwyl navorsers ondersoek instel na die omvang en moontlike oorsake van die ongewone mariene verskynsel. Foto: Pete Oxford

Wetenskaplikes ondersoek ook die moontlikheid dat ander omgewingsfaktore, soos skadelike alge, lae suurstofvlakke of buitengewone oseanografiese toestande, die gebeurtenis moontlik veroorsaak of vererger het.

Toetse vir gifstowwe in sardyne wat naby Saldanhabaai, die Kaapse Canyon en Gansbaai versamel is, asook in ’n oënskynlik gesonde vergelykingsmonster van St. Helenabaai, het geen van die verlammende gifstowwe getoon wat met ’n skadelike alge-opbloei in Saldanhabaai geassosieer word nie.

Twee ander alge-gifstowwe, domoïensuur en jessotoksien, is teen lae vlakke opgespoor, met die hoogste vlakke in die oënskynlik gesonde vergelykingsmonster. Geen ander gifstowwe wat in die sifting ingesluit is, is opgespoor nie.

Volgens die departement dui dié bevindinge daarop dat die gifstowwe waarvoor getoets is, waarskynlik nie die primêre oorsaak van die sardynvrektes was nie. Dit sluit egter nie skadelike alge of omgewingstoestande heeltemal uit as faktore wat moontlik bykomende stres op die visse geplaas het nie.

Die departement het ’n dringende inligtingsessie met belanghebbendes in die kleinskaalse pelagiese visserybedryf belê. ’n Taakspan bestaande uit die departement, die visserybedryf en ander relevante belanghebbendes sal ingestel word om dringend ’n gekoördineerde hoëvlak-reaksieplan vir PHV-verwante sardynvrektes in Suid-Afrikaanse waters op te stel.

Dooie sardyne lê langs die kus by Melkbosstrand nadat die visse op die strand uitgespoel het.
Dooie vis lê langs die kus by Melkbosstrand nadat die visse op die strand uitgespoel het.

Deur middel van ’n gekoördineerde interagentskap-poging brei die departement siektetoesig langs die Wes-, Suid- en Ooskus uit, terwyl verdere siekte-, patologie- en omgewingsondersoeke voortgaan. Die departement se roetine-hidroakoestiese biomassa-opname in Oktober en November sal die eerste geleentheid wees om die moontlike uitwerking op die sardynbevolking te bepaal.

PHV is nog nie voorheen in Suid-Afrikaanse sardyne aangemeld nie. Dit is gedurende die 1990’s met twee grootskaalse sardynvrektes in Australasië verbind. Die virus is egter later in oënskynlik gesonde Australiese sardynbevolkings opgespoor sonder dat dit voortdurende vrektes veroorsaak het.

PHV is ’n virus wat met sardyne, ook bekend as pilchards, geassosieer word, en daar is geen bewyse dat dit mense of ander diere besmet nie.

Volgens die departement dui die bevinding van PHV alleen nie daarop dat gesonde sardyne wat kommersieel gevang word of ingemaakte produkte onveilig is nie. Dit regverdig tans ook nie ’n algemene opskorting van visvang of inmaakbedrywighede nie.

“Die resultate van die biotoksientoetse is ook gerusstellend, hoewel dit nie as ’n algemene goedkeuring van alle kommersiële vangste beskou kan word nie. Monitering en normale voedselveiligheidsmaatreëls moet dus voortgaan.”

Lede van die publiek moet nie dooie of sterwende visse optel of eet nie. “Hulle moet ook nie dooie of sterwende visse aan troeteldiere voer nie.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article