Strate in Mothibistad
Die strate in Mothibistad word volgens inwoners gereeld met rioolwater uit lekplekke oorvloei. FOTO: Facebook

Groeiende woede oor voortslepende swak dienslewering in Kuruman

Strate in Mothibistad
Die strate in Mothibistad word volgens inwoners gereeld met rioolwater uit lekplekke oorvloei. FOTO: Facebook

KURUMAN – Die Ga-Segonyana-munisipaliteit in Kuruman is onder druk van inwoners weens groeiende woede oor swak dienslewering in verskillende woonbuurte. Dit te midde van bewerings oor finansiële wanbestuur en munisipale wanadministrasie deur opposisiepartye.

Ook is die munisipale bestuurder se optrede in ‘n onlangse hooggeregshof-uitspraak deur die regters bevraagteken en is ‘n tenderproses ongeldig verklaar.

Inwoners van Mothibistad en Wrenchville het hulle tot sosiale mediaplatforms gewend om klagtes oor infrastruktuur te lug.

Braam van der Westhuizen, DA-raadslid, wys hoe diep van die gate in die paaie is.
Braam van der Westhuizen, DA-raadslid, wys hoe diep van die gate in die paaie is. FOTO: Skermgreep

Intussen sê DA-raadslid Braam van der Westhuizen hy kla al jare oor swak dienslewering en eis weer eens dat senior amptenare en raadslede leefstyloudits moet ondergaan.

In reaksie op die klagtes en bewerings het Martin Tsatsimpe, munisipale bestuurder, ‘n amptelike verklaring uitgereik waarin hy die bewerings ontken. Hy skryf operasionele struikelblokke toe aan ernstige vandalisme van infrastruktuur en aktiewe konstruksie, en ontken bewerings van onwettige bestuurspraktyke.

LEES OOK: Court exposes ‘self-created urgency’ in Ga-Segonyana’s irregular tender award

Gebrek aan voorkomende instandhouding

Mogolodi Diemeng, ‘n inwoner van Mothibistad, het ‘n openbare pleidooi aan burgemeester Neo Masegela en Tsatsimpe oor rioolwater gerig wat lank reeds onophoudelik deur sekere strate stroom.

Sy sê strate het in riviere verander en opgedamde besoedelde water hou ernstige gesondheidsrisiko’s in, soos onuithoudbare stank, vlieë, muskiete en moontlike uitbrekings van cholera, diarree en velinfeksies veral vir kwesbare inwoners.

Diemeng het in haar plasing op Facebook munisipale instandhoudingspanne gekritiseer omdat “werkers net grond op die rioolpoele gooi en dit gelykskraap in plaas daarvan om die tegniese oorsake van die probleem reg te stel.”

Volgens inwoners is infrastruktuur gebroke weens ‘n gebrek aan voorkomende instandhouding.

“Die gemeenskap eis dringende terreininspeksies, meganiese reiniging en pypherstelwerk, deeglike ontsmetting van die gebied, openbare instandhoudingskedules, en opvoedingsveldtogte vir mense om nie vreemde voorwerpe in die stelsel te gooi nie,” sê sy.

Intussen het Zaakir B. van Wrenchville in ‘n openbare groep, Genoeg is genoeg, gesê die buurt gaan agteruit.

“Ons het groot slaggate, herhaalde rioolverstoppings, afgeskeepte basiese dienste en algemeen vervalle munisipale infrastruktuur en amptenare ontwyk hul aanspreeklikheid. Hoewel inwoners gereeld hul munisipale rekeninge betaal, misluk die plaaslike owerheid om basiese dienste te lewer. Inwoners van Wrenchville eis onmiddellike padherstelwerk, rioolopruiming en aktiewe munisipale ingryping.”

LEES OOK: Ga-Segonyana halts enforcement of tender ruling pending appeal

Rioolwater stroom in 'n pad af
Rioolwater stroom in ‘n pad af. Onlangs het ‘n voetganger wat die rioolwater probeer vermy het, in ‘n oop rioolgat geval en was hy heeltemal bedek. Die oop gat en stroom rioolwater is skaars 100m vanaf ‘n skool. FOTO: Skermgreep

Sistemiese korrupsie

Van der Westhuizen beskuldig die munisipale administrasie van sistemiese korrupsie, swak bestuur en die verontagsaming van amptelike toesigverslae.

“Van my klagtes sluit in die terugwerkende goedkeuring van elektrisiteitstariewe volgens Nersa-riglyne, asook buitensporige elektrisiteitsrekeninge by plaaslike ouetehuise. Boonop word inwoners gedwing om self te betaal vir die vervanging van foutiewe watermeters, wat eintlik die raad se verantwoordelikheid is.”

Van der Westhuizen beweer verkopers van eiendomme word onderwerp aan ongemagtigde Artikel 118-boetes wat tot R250 000 kan beloop. Dit gebeur wanneer die munispaliteit boetes hef vir historiese strukture, maar munisipale bourekords het verlore gegaan weens ‘n brand ‘n paar paar gelede. Daar is dus geen rekord of amptelike bewyse dat strukture moontlik onwettig is, of wanneer dit opgerig is nie.

“Die munisipaliteit het die plig en moet deur rekordhouding kan bewys of bouregulasies moontlik oortree is of nie. Nie elke inwoner het sy eie huisplanne nie.”

Nog bewerings is dat die munisipaliteit private kontrakteurs gebruik weens onklaar vullisverwyderingsvragmotors. Werkers gebruik ook ongemagtig munisipale voertuie vir privaat doeleindes soos om skrootmetaal te versamel en verkoop.

Hy sê die rioollekkasie in Barnardlaan is 15 jaar lank al nie herstel nie en die stank is ondraaglik.

LEES OOK: Rioolfrustrasie in Wrenchville: ‘Mens kan dit nie meer vat’

‘Daadwerklik van plan om probleme op te los’

Tsatsimpe erken daar is gebreke, maar meen hy het ‘n daadwerklik plan om die probleme op te los en is redelik seker hy sal teen volgende jaar die nodige geld van plaaslike maatskappye en ander bronne kry.

“Die munisipaliteit het destyds verklaar dat elektrisiteitstariewe vir die 2021-’22-tydperk streng voldoen het aan Nersa se goedgekeurde riglyn van 14,59%. Ons sal regsadvies inwin oor elektrisiteit derdeparty-herverkopers wat bykomende fooie van bejaardes hef.

“Die munisipaliteit ontken bewerings van ‘n outomatiese R250 000 boete ingevolge Artikel 118 van die Wet op Munisipale Stelsels oor bouregulasies. Die bewerings is misleidend en sonder enige regsgrondslag. Vermiste geargiveerde bouplanne kom nie outomaties neer op onwettige konstruksie of die verkoper se aanspreeklikheid sonder ‘n behoorlike ondersoek nie.”

Hy sê foutiewe watermeters word gratis vervang as deel van infrastruktuur-verantwoordelikhede, en ondersoeke word slegs ingestel wanneer meters fisieke skade toon. Die oplossing van rioolprobleme by die Barnard-rioolpompstasie is ingesluit by ‘n langtermynplan vir die verbetering van die rioolinfrastruktuurstelsel.

LEES OOK: Inwoners van Wrenchville spook met watertoevoer

'n Slaggat in 'n woonbuurt. Slaggate kom in al die woonbuurte voor
‘n Slaggat in ‘n woonbuurt. Slaggate kom in al die woonbuurte voor. FOTO: Verskaf

“Die voortslepende onderbrekings by die rioolstasies en die dorp se hoof-chlorineerder is weens vandalisme van grootmaat-waterinfrastruktuur. Ons doen alternatiewe ontsmetting en watergehalte word deurlopend gemoniteer.”

Vertragings met vullisverwydering skryf hy toe aan eksterne herstelwerk-omkeertye en die beskikbaarheid van onderdele.

“Ons sal tugstappe doen teen enige bewese misbruik van die vloot.”

Hy ontken voorts politieke inmenging vir aanstellings by die munisipaliteit. “Die amptelike versoeke vir leefstyloudits word deur die behoorlike raadskanale hanteer,” sê Tsatsimpe.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article