DE AAR – Die munisipaliteit in De Aar het glo in die nuwe begroting min voorsiening gemaak vir toerusting om die paaie te onderhou of slaggate te vul, en die munisipale werf lyk blykbaar soos ” ‘n skrootwerf van ou wrakke”.
Só sê die DA in ‘n verklaring waarin hy Disang Molaole, die Emthanjeni– munisipale bestuurder, versoek om ‘n omvattende plan met duidelike tydlyne voor te lê vir die herstel en vervanging van die verwaarloosde vloot van padinstandhoudingstoerusting.

Luidens ‘n verklaring van DA-raadslid Ridwaan Smith het hul vorige volgehoue druk veroorsaak dat herstelwerk aan sommige paaie in die streek gedoen is. Hoewel inwoners die padverbeterings verwelkom, waarsku die DA dat die munisipaliteit steeds nie die kern van die probleem oplos nie.
“In plaas daarvan om sy eie toerusting te herstel, huur die munisipaliteit toerusting soos laaigrawe en padskrapers. Daar is geen geld in die 2026-’27-begroting opsygesit vir die huur van toerusting, of vlootherstelwerk of -vervanging nie.’”
Agterstand in padinstandhouding bly kritieke kwessie
Hy waarsku die benadering is onvolhoubaar en finansieel onverantwoordelik, en los ook nie die groeiende agterstand in padinstandhouding in De Aar, Britstown en Hanover op nie.
“Die gebrek aan voorsiening vir vlootherstel en padinstandhouding in die nuwe begroting was immers een van die hoofredes waarom die DA besluit het om nie die begroting te steun nie.
“Die munisipale werkswinkel lyk soos ‘n skrootwerf. In Februarie was nog net een van die munisipaliteit se laaigrawe in werking, vandag geeneen nie. Die twee padskrapers is steeds buite werking; een van die skrapers het glo net ‘n nuwe ratkas nodig om weer diens te lewer.”

Die DA is ook bekommerd oor die gehalte van die herstelwerk op die hoofpad deur De Aar.
“Die bewering is dat groot slaggate en beskadigde dele bloot met teer oorgespuit is sonder dat die beskadigde padfondament herstel is, wat beteken dié tydelike oplossings sal waarskynlik nie lank hou nie.”
Die DA gaan op die volgende raadsvergadering ‘n mosie indien en eis dat ‘n volledige verslag oor vloot- en toerustinghuurkostes voorgelê word; ‘n omvattende oudit van die munisipale vloot gedoen word; ‘n vlootherstel- en operasionele plan opgestel word; en ‘n formele padskraapskedule vir alle grondpaaie ingestel word.
Smith sê inwoners verdien veilige paaie, ‘n betroubare munisipale vloot en ‘n munisipaliteit wat vooruit beplan eerder as om voortdurend krisisse te bestuur.
LEES OOK: Vervoermaand sluit af met ‘n snik en ‘n traan in die Vrystaat, eerder as gejuig





