Die saak van die voormalige Stellenbosse skoolhoof wat van seksuele aanranding aangekla word, is tot Dinsdag 1 September uitgestel.
Die klagte spruit volgens die klaer uit ‘n voorval wat verlede Desember by ‘n plaaslike skool plaasgevind het.
Volgens die klaer is sy in Desember 2025 seksueel aangerandtydens die skool se jaar-eindbyeenkoms by die skool.
LEES OOK: Stellenbosch-hoof wat aangekla word van seksuele aanranding tree af
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het destyds aan Eikestadnuus bevestig ‘n interne ondersoek is van stapel gestuur.
Millicent Merton, ‘n woordvoerder vir die WKOD, het gesê die beweerde voorval is op Vrydag 12 Desember aan die departement se direktoraat vir werknemersverhoudings gerapporteer. Merton het bygevoeg moontlike tugstappe kan teen die skoolhoof geneem word afhangend van die ondersoek se uitslae.
Voor uitspraak oor die WKOD se ondersoek egter gelewer kon word, het die hoof besluit om vroeg af te tree.
Die hofsaak gaan egter voort en die beskuldigde en sy regsverteenwoordiger het op Vrydag 14 Augustus vlugtig in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.
Die oud-hoof is tans uit op borgtog en is deur die hof gemaan om geen kontak met die klaer te hê nie.
Die saak is uitgestel sodat ‘n afskrif van die dossier aan die verdediging verskaf kan word, waarna die saak na verwagting vir verhoor geskeduleer sal word.
LEES OOK: Skoolhoof voor oor beweerde aanranding


