Lesing vier wyle Eikestadse professor wat geskiedenis sou maak

Mary-Anne Plaatjies-van Huffel
Die jaarlikse gedenklesing ter ere van wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel is op 12 Augustus deur die US aangebied.

Lesing vier wyle Eikestadse professor wat geskiedenis sou maak

Mary-Anne Plaatjies-van Huffel
Die jaarlikse gedenklesing ter ere van wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel is op 12 Augustus deur die US aangebied.

Tydens die jaarlikse gedenklesing by die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch (US) is verlede Woensdag (12 Augustus) opnuut hulde gebring aan die lewe en akademiese nalatenskap van wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel.

Sy sou die eerste vroulike professor van kleur wees wat in die fakulteit aangestel sou word, maar is kort voordat sy haar intreerede sou lewer oorlede.

Die tema van die lesing, “A feminist apophatic mysticism: resisting the demystification of Black theology”, het ‘n diepgaande vraag aan die orde gestel: Hoe kan die geloofservarings van Swart vroue – veral hul persoonlike en soms onverklaarbare ervarings van God – ernstig opgeneem en gerespekteer word sonder om dit deur tradisionele teologiese raamwerke te probeer definieer of beheer?

 prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel
Prof. Keri Day (middel) van die Princeton Seminarie in die VSA met die susters en susterskind van wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel by die gedenklesing in die teologie fakulteit van die US. Hulle is (van links) Caitlyn Witbooi, Sharon Witbooi, Francis Fourie en Evie Olivier.

Van wyd en syd

Die lesing is deur prof. Keri Day, die Elmer G Homrighausen-voorsitter en professor in konstruktiewe teologie en Afrika-Amerikaanse Godsdiens aan die Princeton Teologiese Seminarie in die VSA, aangebied.

Dit bring feministiese teologie, mistiek en swart teologie byeen en beklemtoon dat swart vroue se geloofservarings gevorm word deur hul geleefde werklikheid, waaronder rassisme, diskriminasie, armoede, kolonialisme en ander vorme van onderdrukking.

Tog is geloof nie altyd iets wat volledig verklaar of in vaste kategorieë geplaas kan word nie. “Apofatiese” teologie herinner gelowiges daaraan dat God groter is as die menslike vermoë om Hom te beskryf of te verstaan, terwyl mistiek fokus op die diep, persoonlike ervaring van God – soms op maniere waarvoor daar eenvoudig nie genoeg woorde is nie.

Francis Fourie, een van die drie oorblywende susters van Plaatjies-van Huffel, en haar man, Danville, het spesiaal uit Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate gereis om die lesing by te woon.

“Die lesing daag ons uit om nie elke geestelike ervaring onmiddellik te probeer verklaar, kategoriseer of ‘weg te verduidelik’ nie,” sê Fourie.

Respekteer die misterie

“Dit vra dat ons eerder luister na die verhale en geloofservarings van swart vroue en erken dat daar waarde en waarheid kan wees in dit wat nie altyd in woorde uitgedruk kan word nie. In wese is die boodskap eenvoudig, maar kragtig: Ons hoef nie altyd die misterie van geloof te verklaar nie. Soms moet ons dit bloot respekteer. Die geloofservarings van swart vroue verdien om gehoor, erken en ernstig opgeneem te word – ook wanneer dit die grense van tradisionele teologiese denke uitdaag.”

Vir Fourie was die lesing nie net ‘n akademiese oefening nie, maar ook ‘n uitnodiging om anders te luister, dink en ruimte te laat vir die misterie van God.

“Almal ervaar God nie op dieselfde manier nie, jy het nie nodig om hom net in ‘n kerkgebou te gaan soek nie, maar kan ook met Hom kommunikeer in die buitelug, ‘n vertrek in jou huis of net daar waar jy ‘n behoefte het om met Hom te gesels,” sê sy.

“Die feit dat God Jesus gestuur het om met ons op die aarde te wandel, gee ons die geleentheid om deur middel van gebed en persoonlike ervarings die mistiek van God op ‘n menslike manier te ervaar. Jesus het in sy lewenstyd saam met gewone mense op aarde pyn en lyding ervaar, maar nooit sy einddoel vergeet oor waarom hy hier op aarde geplaas is nie.”

Vir studente in teologie en Jan Publiek is daar stof tot nadenke oor hoe elkeen God beskou en ervaar en Plaatjies-Van Huffel het in haar leeftyd die eerste tree op hierdie pad vir ander swart vroue gegee.

Sy was die eerste vrou van kleur wat in 1992 in die destydse NG Sendingkerk as predikant in Robertson ingesweer is én het dit haar doel gemaak om vroue in die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ‘n stem te gee.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article