Misdaad NovaNews
Inwoners van Hillside Village voel nie veilig in hul eie woonbuurt nie, sê die voorsitter van die plaaslike buurtwag.

Inwoners van Hillside Village het genoeg gehad van kwaaddoeners

Misdaad NovaNews
Inwoners van Hillside Village voel nie veilig in hul eie woonbuurt nie, sê die voorsitter van die plaaslike buurtwag.

Stormwaterdreine, bosse en brûe is net van die weg­kruip­plek van kwaaddoeners in Hillside Village, Idasvallei, en inwoners sê hulle het genoeg gehad.

“Hillsiders voel geheel en al nie veilig in hul eie woonbuurt nie,” verduidelik die buurtwag-voorsitter, George Thys.

Hy voeg by vir skelms maak dit nie saak of dit dag of nag is nie; hul “kriminele aktiwiteite” gaan voort.

LEES OOK: Veiligheid onder die loep na moord in begraafplaas

Op hul hoede

Onder die algemeenste misdrywe is inbrake by wonings en diefstal vanuit inwoners se agterplase. Thys sê munisipale infrastruktuur word ook gevandaliseer met pale van padtekens wat afgebreek, weggedra en vir skroot­metaal verkoop word.

“Die misdadige aktiwiteite is oral. Die hele Idasvallei loop deur, maar ons het opgelet dat skelms hul gesteelde goedere op munisipale bates in Hillside Village verwerk en stoor. Dit is ‘n area soos onder die Mertonweg-brug en in die sloot by McCoy- en Helderbergstraat.”

Dit is veral hierdie “verwerking” van gesteelde eiendom wat inwoners op hul hoede het.

In ‘n verklaring verduidelik die Good-raadslid Marius van Stade dringende ingryping deur beide die plaaslike polisie en die munisipaliteit is nodig.

“Gesinne leef in vrees, bejaardes voel toe­nemend kwesbaar en werkers wat voor sonop reis, word deur misdadigers geteiken. Geen gemeenskap behoort gedwing te word om onder hierdie omstandighede te leef nie,” voer Van Stade aan.

Goeie samewerking

Volgens die buurtwag is hulle veral teleurgesteld in die reaksie van die munisipaliteit, omdat die toename in misdaad glo al ses jaar tydens Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) se vergadering genoem is.

Onder die voorstelle uit die gemeenskap om misdaadbekamping aan te help, was die vraag na kringsteltelevisiekameras.

Thys sê die gemeenskap voel hulle is alleen gelaat om die krisis te hanteer.

Tog is dit nie alles slegte nuus nie. Samewerking tussen die inwoners en die Hillside Village-­buurtwag help.

“Ons kry genoegsame inligting wat baie help. Ons hou ook gereeld vergaderings met die gemeenskap oor hierdie kwessies. Die buurtwag beweeg so gereeld as moontlik deur die gebied en lede probeer hulle so gereeld as moontlik beskikbaar stel.

“Die uitdaging is egter dat baie lede werk en ander is bejaard. Ons span is ook nie baie groot nie en daarom het ons verlede jaar ‘n verhouding met die Juffenburgstraat-buurtwag gestig om ons by te staan en ruil gereeld inligting.”

Volgens die Cloetesville-­polisiewoordvoerder AO Zenobia Sedeman is geen toename in misdaad in Hillside Village aangemeld nie. “Klagtes word wel deur polisiebeamptes bygewoon nadat ‘n klagte of klagtes deurgegee word,” het sy by navraag gesê.

Inwoners meen meer sigbare polisiëring en reaksiepatrollies van die polisie en munisipale wetstoepassers sal help.

Hulle stel ook voor die munisipaliteit moet meer doen om hul bates te beskerm deur omheining op te rig, beter beligting te verskaf en om by probleemgebiede waar gesteelde goedere deur misdadigers verwerk en gestoor word, in te loer.

In kontak

Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, is die munisipaliteit bewus van klagtes en [misdadige] voorvalle in die buurt.

Hy sê die munisipaliteit tree in wanneer dit binne sy mandaat is. “Patrollies word ook gereeld uitgevoer,” sê Grobbelaar.

“Ons moedig inwoners aan om ook enige misdadige ­aktiwiteite by die polisie aan te meld, aangesien die voorkoming en bekamping van misdaad primêr die verantwoordelikheid van die polisie is, met die munisipaliteit wat ‘n ondersteunende rol speel.”

Grobbelaar voeg by die munisipaliteit bly in gereelde kontak met buurtwagte om probleme te bespreek.

Thys nooi alle Hillsiders om by die buurtwag aan te sluit en nie die reg in eie hande te neem nie.

LEES OOK: Landelike veiligheid onder die loep in en om Stellenbosch

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article