In ‘n skool waar sport proriteit geniet en ‘n gemeenskap waar bendegeweld woed, is ‘n groep leerders besig om die kunste by die Hoërskool Cloetesville te laat herleef.
Die groep leerders – van graad 8 tot graad 12 – het onlangs die eerste keer aan die AKTV-tienertoneelkompetisie onder leiding van die passievolle onderwyser juffrou Wendy Crowley deelgeneem.
Hoewel baie van die leerders in die dramagroep hulself as skaam beskryf, soos Faith Petersen (gr. 10), meen hulle die verhoogspel het iets in hulle aangewakker. Vir die res is die groep ‘n manier om hul energie konstruktief in kuns om te skep.
LEES OOK: Hoërskool Cloetesville-onderwyser op knieë by skool verras

Realistiese storie
“Ek het gesien hier is talent en wat hulle tydens die Cloetesville’s Got Talent-aand kon doen en gedink ons kon dit verder neem,” verduidelik Crowley. “Ons wil ‘n stem vir ons jongmense gee, hul talente ten toon stel en bevorder en wil graag hul beste sien.”
Die plan was toe om aan die dramakompetisie deel te neem. Crowley sê hoewel dit aanvanklik onmoontlik gevoel het, het die groep die toneelstuk The reality van menswees geskep.
Volgens die gr. 11-leerder Kiara Cupido was dit vir die leerders belangrik om ‘n storie te vertel wat realisties is en nie oordramaties was nie – veral omdat bendegeweld en die alledaagse uitdaging van ‘n gemeenskap soos Cloetesville as ‘n grap afgemaak kan word of omdat dit as oorweldigend gesien kan word.
Tog sê die leerders dit is hul alledaagse lewens om in dié gemeenskap skool te gaan en te leef. Dit was daarom vir hulle belangrik om ‘n verhaal te vertel wat uniek en eg aan hul ervarings is.
LEES OOK: Cloetesville vs Lückhoff: It’s ‘game on’ for high schools’ sporting stars
‘In iemand anders se skoene’
Crowley sê met die min hulpbronne en in kort tyd het die leerders iets besonders vermag en hulself verbaas. “Hulle staan hier om te sê daar is nog hoop; ons is hier en staan nie terug nie, want ons het ‘n storie om te vertel. Ons glo in wat ons doen en staan saam,” sê Crowley.
Sy sê die groep het baie opofferinge gemaak, goed saamgewerk en uiteindelik hulle alles tydens die 20 minute op die verhoog gegee.
Vir die matrikulant Preston Hiedenman, wat die bendelid in die toneelstuk vertolk het, was dit ‘n manier om in iemand anders se skoene te loop.
“Daar waar ek woon, is waar skote byna daagliks geskiet word. Vir my om daardie karakter aan te vat, was besonders, want ons storie is ook een van hoop. Dit is wat ek van die toneel geneem het – ons kan verander, beter besluite maak; dié lewe van geweld is nie die enigste een nie,” sê Preston.
Die groep het nie net geleer hoe om ‘n toneelstuk te skryf, te vervaardig en op te voer nie, maar almal sê hulle het ook danksy die ervaring gegroei.
Dramagogga het gebyt
“Ek beskou myself as ‘n skaam mens, maar om op die verhoog te wees, bring ‘n ander kant van jou uit. Dit het my gehelp om uit my dop te kruip en meer my stem te gebruik en mense in die oë te kyk,” meen Jevano Golaith (gr. 12).
Die dramagogga het die groep behoorlik gebyt en almal is dit eens dat hul droom-projek ‘n musiekblyspel is.
“Dié produksie sal ook ‘n boodskap uitstuur, want dit is belangrik,” sê Kiara.
Die groep werk nou om ‘n bymekaarkom-plek by die skool te kry om hul werk voort te sit. Crowley sê mense en instansies wat hul opvoering gesien het, het ook aangebied om te help met onder meer die Hoër Meisieskool Bloemhof, wat na haar uitgereik het.
Die leerders sê hulle laat hulle nie afskrik deur die min ondersteuning wat hulle ná die toneelfees ontvang het nie, want dit spoor hulle net meer aan. Nie almal wil ‘n akteur word nie – party wil juweliersware maak, ander wil hul passie vir modeontwerp uitleef en ‘n paar wil skrywers in die kunste te word.
Die leerders bedank Crowley, wat hulle raakgesien het en saam met hulle hul slagspreek “Ons dala Cloetesville” uitleef.
LEES OOK: Hoërskool Cloetesville se klas van ’85 herenig na vier dekades






You must be logged in to post a comment.