Brand by Natural Learning Academy se klaskamers in Kylestraat, Strand.
Die uitgebrande binnekant van ‘n klaskamer by die Natural Learning Academy se Kylestraat-kampus in Strand, nadat ‘n brand op Dinsdag 28 Julie deur die gebou gewoed het. Gelukkig was die gebou toe leeg. Die skool het ‘n noodveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om tydelike klaskamers te finansier.

Strandse skool vra om hulp ná ‘n brand klaskamers verwoes het

Brand by Natural Learning Academy se klaskamers in Kylestraat, Strand.
Die uitgebrande binnekant van ‘n klaskamer by die Natural Learning Academy se Kylestraat-kampus in Strand, nadat ‘n brand op Dinsdag 28 Julie deur die gebou gewoed het. Gelukkig was die gebou toe leeg. Die skool het ‘n noodveldtog op BackaBuddy van stapel gestuur om tydelike klaskamers te finansier.

Nadat ‘n verwoestende brand ‘n skool se klaskamers einde Julie in puin gelê het, het Natural Learning Academy (NLA) ‘n BackaBuddy-­veldtog van stapel gestuur met die vriendelike versoek dat gemeenskapslede die hand diep in die sak sal steek om die skool te help herbou.

Die brand het op Dinsdag 28 Julie die gebou in Kylestraat, Strand, erg beskadig (“Skool in huis erg in brand beskadig,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 5 Augustus).

Die eerste noodoproep is omstreeks 20:00 ontvang en die nooddienste was teen 20:50 op die toneel. Brandweerspanne het die vlamme teen ongeveer 23:35 geblus.

Die dak is verwoes en die binnekant is ernstig beskadig. Die gebou was ‘n huis wat in vyf klaskamers omgeskep is. Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is onbekend.

Brand by Natural Learning Academy se klaskamers in Kylestraat, Strand.
Verwoesting by die Natural Learning Academy se Kylestraat-kampus ná die brand.

Skool reageer

Die skool het op Vrydag 28 Augustus op sy Facebook-blad gedeel: “Ons het amptelik ‘n BackaBuddy-geldinsame­lingsveldtog van stapel gestuur om ons herstelpogings te ondersteun en ons te help om ‘n veilige en stabiele leeromgewing vir ons leerders en personeel op te rig. Ons is ongelooflik dankbaar vir die oorweldigende goedhartigheid, ruimhartigheid en steun wat julle reeds aan ons betoon het. Elke bydrae – groot of klein – maak ‘n wêreld se verskil.”

NLA is ‘n klein onafhanklike skool met 65 leerders met doelbewuste lae onderwyser-tot-leerder-verhoudings.

Volgens die BackaBuddy-veldtogbeskrywing is die skool rondom een idee gebou – “elke kind verdien ‘n klaskamer waar hulle verstaan word; nie net geakkommodeer word nie. Vir baie van ons kinders is struktuur en roetine nie ‘n lekker-om-te-hê-ding nie – dit is wat leer heeltemal moontlik maak.”

Die beskrywing deel voorts dat die betrokke leerders na die skool se Millsstraat-kampus, wat nie ontwerp is om almal te huisves nie, verskuif word. Om klasse aan die gang te hou en roetines ongeskonde te laat, het die skool tydelike modulêre klaskamers en bykomende sanitêre geriewe op die Millsstraat-terrein nodig.

“Om vyf klaskamers en bykomende toilette op ons Millsstraat-kampus aan die gang te hou sodat ons kinders nie ‘n enkele dag meer verloor as wat hulle reeds het nie…” word die veldtog beskryf wat die geld sal doen.

“Vir ons leerders veral kan ontwrigting van roetine maande se harde vordering ongedaan maak. Jou ondersteuning help ons om dit te beskerm.”

Beperkte dekking 

Die skool het ‘n versekeringseis wat reeds aan die gang is, maar erken dat die dekking nie ver genoeg sal reik nie.

“Ons verwag die dekking nie ver genoeg sal strek om die werklike koste om hierdie kinders dadelik terug in ‘n behoorlike klaskamer te kry, te dek nie.” Die skool staar ‘n aanvangskoste van ongeveer R48 000 in die gesig, plus ‘n maandelikse huur van ongeveer R24 000 terwyl die tydelike geriewe nodig is.”

Die veldtog is gevestig om R100 000 in te samel. Tot dusver is R14 000 deur 13 skenkers bygedra. Skenkings gaan direk aan bevestigde begunstigdes.

Daar is egter ‘n beperking: NLA is ‘n private skool, nie ‘n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk nie. “Ons is nie in staat om ‘n Artikel 18A-belasting­sertifikaat vir jou skenking uit te reik nie,” lui die veldtog. “Maar elke rand gaan presies waar ons sê dit sal gaan – om ons kinders veilig in die skool te hou.”

Die skool vra ook sakeondernemings om direk kontak te maak as hulle materiaal, vervoer of dienste kan aanbied. Die veldtog loop tot Maandag 19 Oktober.

  • Om te skenk, besoek “Natural Learning Academy Fire Relief” by www.backabuddy.co.za.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article