Diewe het die tweede keer in ‘n maand by die Sir Lowry’s Pass Primêre Skool toegeslaan – in die middel van al die veiligheidsomstredenheid.
Getuies beweer vier mans het verlede Woensdag (17 Junie) ná die einde van die skooldag oor die voorhek gespring en probeer om by ‘n voorafvervaardigde klaskamer in te breek, wat ‘n gasontploffing veroorsaak het.
Dit het die aandag van ‘n skoolopsigter getrek, wat die vier agternagesit het voordat hulle ontsnap het.
AO Suzan Jantjies, ‘n woordvoerder vir die Somerset-Wes-polisie, sê die voorval is eers die volgende dag (18 Junie) aangemeld, waarna ‘n saak van kwaadwillige beskadiging en diefstal geregistreer is.
Dit is nie die eerste keer nie wat dié skool deur kwaaddoeners geteiken word nie. ‘n Soortgelyke voorval het Maandag 18 Mei omstreeks 06:00 plaasgevind (“Diewe slaan weer toe,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 20 Mei).
André Hindley, die skool se veiligheidsbeampte en departementshoof, skat die Mei-inbraak alleen het R70 000 se skade aangerig, met twee gr.2-klaskamers wat die ergste getref is.

Liezl Dodo, wat al 10 jaar by Sir Lowry’s Pass Primêr onderrig en wie se klaskamer beskadig is, het bygevoeg boewe breek minstens drie keer per jaar in, terwyl die skoolhoof, Delphine May, meen die voortdurende inbrake benadeel leerders se onderrig.
Hindley sê die skool het geen veiligheidsbeamptes op die perseel nie en ander maatreëls was onsuksesvol – ‘n aanduiding van ernstige gapings. “Die kameras is buite werking weens die kragonderbrekings in Sir Lowry’s Pass,” voeg hy by.
Jantjies gee ‘n opdatering oor die Mei-saak: “Die saak is gesluit aangesien geen verdagtes positief verbind kon word nie. Sodra nuwe inligting ontvang word, sal die saak heropen word.”
Drie inbrake is die afgelope jaar by die skool aangemeld, sê sy. “Die hele gebied geniet voorkeur en ingryping is aan die gang met die bevelvoerder van die Sir Lowry’s Pass-satellietkantoor, kapt. Charles Riffel.” Sy sê plaaslike buurtwagte help ook.
Millicent Merton, ‘n woordvoerder vir die provinsiale onderwysdepartement, sê hul is bewus van die herhaalde inbrake die afgelope 12 maande en erken die uitdagings wat dit bied.
Sy sê die skool het ‘n funksionele veiligheidskomitee en -plan – ‘n stelling wat Hindley se beskrywing van ernstige sekuriteitsgapings weerspreek.
Merton verduidelik die skool het aansoek gedoen vir ‘n alarmopgradering, maar die bestaande stelsel is getoets en funksioneel bevind. ‘n Veiligheids- en veerkragtigheidstelkaart-assessering sal na verwagting in Julie voltooi word om die skool se algehele veiligheidsrisiko te klassifiseer.
“Die skool is deel van die gemeenskap en ons moet almal saamwerk om dit te beskerm,” sê Merton.





You must be logged in to post a comment.