Diewe slaan weer toe by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool

Donovan Vaaltyn, hoofopsigter by Sir Lowry's Pass Primêre Skool, by die toegangspunt wat inbrekers gebruik het.
Donovan Vaaltyn, die hoofopsigter by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool, staan by die beskadigde toegangspunt wat die inbrekers gebruik het om die klaskamer te betree. Foto: Leevasha Reddy

‘n Inbraak by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool Maandag (18 Mei) het leerders se opvoeding weer eens in gedrang gebring.

“Leerders se onderrig word deur die voortdurende inbrake benadeel,” sê Delphine May, die skoolhoof.

AO Suzan Jantjies, ‘n woord­­voerder vir die Somerset-Wes-­polisie, sê die inbraak het omstreeks 06:00 plaasgevind, waarna een van die skoolopsigters die personeel in kennis gestel het.

“Verskeie items is gesteel en beskadig. Die polisie ondersoek ‘n saak van inbraak,” sê Jantjies.

Inbraakskade by Sir Lowry's Pass Primêre Skool waar oortreders twee klaskamers verwoes en R70 000 skade aangerig het.
Die Somerset-Wes-polisie ondersoek ‘n saak van besigheidsinbraak by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool nadat onbekende oortreders Maandagoggend (18 Mei) twee klaskamers geteiken en sowat R70 000 se skade aangerig het.

Die oortreders het die skoolterrein van agter betree, waarna hulle toegang tot die voorafvervaardigde klaskamers verkry het voordat hulle ingebreek het.

André Hindley, die skool se veiligheidsbeampte en departementshoof, sê die herhaalde inbrake word moontlik gemaak deur ernstige sekuriteitsgapings. Die skool het geen beamptes op die perseel nie en ander sekuri­teitsmaatreëls was onsuksesvol.

“Die kameras is buite werking weens die kragonderbrekings in Sir Lowry’s Pass,” sê Hindley.

Hy skat ongeveer R70 000 se skade is aangerig en bevestig twee graad 2-klaskamers is die ergste getref.

“[Die inbrekers] het toerus­ting verwyder, mure gebreek en lugversorgers uitgehaal om hul behoeftes te bevredig,” verklaar hy. “Wat die frustrerendste is, is dat hulle heel waarskynlik ook voormalige leerders is.”

Een van die onderwysers wie se klaskamer geraak is, voel geskend en onveilig.”Ek is die afgelope 10 jaar ‘n onderwyser by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool en ons word minstens drie keer per jaar met hierdie probleem gekonfronteer,” sê Liezl Dodo.

Omgekeerde meubels en beskadigde toerusting in 'n klaskamer by Sir Lowry's Pass-skool na die inbraak.
Een van die klaskamers by Sir Lowry’s Pass Primêre Skool lê in wanorde na ‘n inbraak Maandag 18 Mei. Foto: Barend Williams

Die personeel kon die leerders teen die toneel beskerm, maar kon nie die ontwrigting wat die misdaad veroorsaak het, voorkom nie. Verskeie graad 2-klasse moes na die skoolsaal verskuif word terwyl hulle vir belangrike toetse voorberei.

“Ons kon hulle nie huis toe stuur nie; die kurrikulum moet voortgaan,” sê Hindley.

Hindley sê die skool moet weer eens die stukke optel terwyl hy daarna streef om die beste opvoeding moontlik vir sy ­leerders te bied.

Enigiemand met inligting oor die saak kan die Somerset-Wes-speurtak bedags by 021 850 1302 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article