Die 40-jarige bakkiebestuurder, wat byna vier jaar gelede in hegtenis geneem is ná die tragiese tref-en-trap-ongeluk op die R102 in Somerset-Wes, is op Dinsdag 7 Julie in die Somerset-Wes-streekshof gevonnis.
Die beskuldigde het weer op Vrydag 17 Julie in die hof verskyn, waarna hy op R5 000-borgtog vrygelaat is nadat hy toestemming gekry het om teen sy vonnis te appelleer. Sy borgtogvoorwaardes bepaal dat hy elke Maandag en Vrydag tussen 08:00 en 16:00 by die Strand-polisiekantoor moet aanmeld.
Onhestelbare verlies
Die ongeluk, wat op 13 September 2022 plaasgevind het, het die lewens van Miche Kruger (31) en Shaun Rosland (34) geëis. Die paartjie was op ‘n bromponie op pad na Firgrove toe die bakkie hulle naby die weegbrug getref het. Kruger se liggaam is later naby die kruising oorkant die vulstasie buite Firgrove gevind.
Die beskuldigde is in hegtenis geneem nadat hy in die omgewing deur ‘n verkeersbeampte vir die verontagsaming van ‘n rooi verkeerslig voorgekeer is en ook omdat hy nie sy rybewys kon toon nie. Die polisie het op die bakkie, ‘n werkvoertuig wat duidelike skade opgedoen het, beslag gelê. Die beskuldigde, wat toe 36 jaar oud was, het in die Somerset-Wes-landdroshof op aanklagte van strafbare manslag, bestuur sonder ‘n rybewys, versuim om sy rybewys by hom of in die voertuig te hou, en vermeende dronkbestuur verskyn.
LEES OOK: “R102-ongeluk eis twee Helderberg-jongmense,” DistriksPos, 21 September 2022.
Die beskuldigde, wat later op borgtog vrygelaat is, het in Maart verlede jaar skuld op die aanklagte ontken. Hy is egter in Januarie vanjaar op twee aanklagte van strafbare manslag en bestuur sonder ‘n rybewys skuldig bevind.
Tronkstraf toegedien
Vir die twee aanklagte van strafbare manslag, wat saamgevat is vir vonnisopleggingsdoeleindes, is hy tot 10 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan vier jaar vir ‘n tydperk van vyf jaar opgeskort is, op voorwaarde dat hy nie gedurende die opskortingstydperk weer skuldig bevind word nie.
Vir die aanklag van bestuur sonder ‘n rybewys is hy tot 12 maande tronkstraf gevonnis, wat volledig opgeskort is. Hy is van die ander twee aanklagte vrygespreek.
Familie soek geregtigheid
Grant Kruger, broer van die oorledene, het gesê hulle hoop op geregtigheid sodat hulle eindelik die hartverskeurende verlies, wat elke lid van hul familie diep ge- raak het, kan verwerk. Hy het bygevoeg die beskuldigde se gebrek aan berou het die proses nog moeiliker gemaak en die feit dat hy nou op borgtog vrygelaat is terwyl hy appelleer, veroorsaak verdere onsekerheid en spanning vir die familie.
“Wat ons die seerste maak, is sy algehele gebrek aan berou. Dit lyk asof die appèl ontwerp is om die skuld op dieselfde mense te skuif wie se lewens geneem is – wonde oopmaak wat ons stadig begin heel het. Elke hofverskyning dwing ons om die verlies van voor af te beleef,” het Kruger gesê.
“Ons is diep bekommerd dat die appèl proses jare lank kan voortsleep, met die skuldige intussen op vrye voet. Ná alles wat ons in die verhoor deurgemaak het, voel dit asof die geregtigheid waarvoor ons so hard geveg het, stukkie vir stukkie verwater word. Geen familie behoort deur hierdie proses te gaan nie.
“Hoewel geen vonnis ons geliefdes kan terugbring nie, hoop ons dat geregtigheid sal geskied en dat hy tronkstraf opgelê sal word, wat ooreenstem met wat hy verdien. Ons wil hê hy moet agter tralies wees vir wat hy gedoen het,” het Kruger benadruk.


