Die Macassar-polisiekantoor vier drie suksesvolle strafsake wat danksy die uitnemende speurwerk van sersante Bukiwe Mayazeni en Eric Mbonsiwa tot vonnisoplegging gelei het.

Alex Joggems is Donderdag 15 Januarie in die Somerset-Wes-streekhof 10 jaar gevangenisstraf opgelê vir roof met ‘n wapen anders as ‘n vuurwapen.

Die voorval het op 9 Junie 2025 plaasgevind toe ‘n 13-jarige slagoffer van sy selfoon beroof is terwyl hy saam met sy sewejarige broer na Shoprite geloop het.

Die slagoffer het vinnig ‘n polisievoertuig raakgesien en daarheen gehardloop.

Polisiebeamptes het onmiddellik na die verdagte begin soek, en die slagoffer het Joggems suksesvol geïdentifiseer. Hy is met die gesteelde eiendom in sy besit in hegtenis geneem.

Die beskuldigde het skuld op die aanklagte beken en is ook ingevolge artikel 103 van die vuurwapenwet onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Volgens Mayazeni is die vonnisopleggings bewys dat geregtigheid wel geskied, al draai die wiele van die gereg soms stadig. “Ek is baie tevrede met die skuldigbevindings waarvoor ek ‘n bydrae gelewer het, veral die roofsaak wat twee jong kinders geraak het. Dié kinderslagoffers verdien geregtigheid, en het dit gekry.”

Riydon Adams is 15-jaar gevangenisstraf (met vyf jaar opgeskort) vir poging tot moord opgelê. Die vonnis is Dinsdag 3 Maart in die Strand-streekhof uitgespreek.

Die voorval het op 3 September 2023 buite die Somerset-Wes-hof plaasgevind. Die slagoffer (26) is gesteek nadat hy vir ‘n borgtogverhoor verskyn het in ‘n onverwante moordsaak. Adams, ‘n vriend van die oorledene in die moordsaak, het die slagoffer buite die hofgebou gekonfronteer en aangeval. Polisiebeamptes en omstanders het ingegryp om die slagoffer te help en Adams is in hegtenis geneem.

Om jurisdiksie redes is die saak van Somerset-Wes na Macassar oorgeplaas. Die poging-tot-moord-verhoor het in die Strand-hof plaasgevind, terwyl die moordsaak in die Somerset-Wes-hof voortgegaan het. In ‘n interessante wending is die slagoffer later in die moordsaak vrygespreek. Adams het skuld beken op die poging-tot-moord-aanklag en is onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Renogene Rossouw (24) is Donderdag 5 Maart skuldig bevind aan poging tot moord en 10 jaar gevangenisstraf opgelê.

Die vonnis spruit uit ‘n gewelddadige voorval wat op 8 Maart 2025 om 00:42 in Macassar Village plaasgevind het. ‘n Geveg het tussen Rossouw en die 24-jarige klaer ontstaan, waarin sy ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is. Rossouw is op 15 Maart 2025 aangekeer en het op 16 Maart 2025 sy eerste hofverskyning gemaak.

Hy is aanvanklik van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla. Die aanklag is later na poging tot moord verander weens die ernstigheid van die slagoffer se beserings.

“Ek is tevrede met die uitkoms,” het Mboniswa gesê.

Die speurhoof kapt. Andries Geldenhuys het gesê: “Elke suksesvolle vonnis is ‘n oorwinning vir geregtigheid.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article