Familielede en ondersteunende gemeenskapslede vier die vonnisoplegging van Charles Appolis, wat sluiting bring na drie jaar van hartseer en hofverrigtinge. Foto: Jamey Gordon

Charles Appolis is die afgelope Donderdag (19 Maart) in die Strand-streekshof vir die moord op Nadia Lotz, die ma van sy drie minderjarige kinders, gevonnis.

Die vonnisoplegging volg nadat die beskudigde op Vrydag 20 Februarie skuldig bevind is aan die moord, wat drie jaar gelede gepleeg is.

Die 32-jarige ma van Temperance Town is op 4 Maart 2023 in ‘n noodlottige mesaanval op ‘n rit van Strand na Gordonsbaai vermoor (“Pa vermoor glo ma van 3“, DistriksPos & Helderberg Gazette, 8 Maart 2023).

Nadia Lotz, wat byna drie jaar gelede vermoor is.

Die verhoor het in Julie verlede jaar ná ‘n langdurige ondersoek begin.

Die vervolging se saak het sterk gesteun op die ooggetuie, vriendin en kollega Kristine Moodley, wat getuig het dat Appolis Lotz van agter aangeval het terwyl sy (Moodley) bestuur het.

Die aanval het plaasgevind nadat die paartjie en Moodley by ‘n park en later by ‘n kroeg gekuier het.

Terwyl Moodley bestuur het met Lotz in die passasiersitplek en Appolis agter, het hy skielik ‘n mes uitgehaal, Lotz se keel gesny en haar herhaaldelik daarmee gesteek. Lotz het uit die bewegende voertuig geval en later aan veelvuldige steekwonde gesterf.

Appolis het Moodley met die mes gedreig voordat sy direk na die polisiekantoor gery het.

‘n Onafhanklike getuie wat agter hul voertuig gery het, het bevestig dat sy ‘n vrou uit die motor sien val het en die slagoffer met ‘n gesnyde keel aangetref het.

Polisie-sersante het getuig dat Appolis by die stasie aangekom het vol bloed, ‘n mes gehad het en erken het “ek het my meisie gesteek” terwyl hy steekbewegings gedemonstreer het.

Appolis het later verantwoordelikheid ontken en beweer dat Moodley Lotz weens romantiese jaloesie aangeval het terwyl hy bestuur het en dat hy probeer ingryp het.

Die hof het egter bevind dat sy weergawe ontwykend en onwaarskynlik was en weerspreek is deur alle fisieke bewyse en getuieverklarings.

Die regter het bepaal dat die vervolging se getuies geloofwaardig was en dat Appolis se erkennings aan die polisie waarheidsgetrou was. Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat Appolis Lotz doelbewus aangeval en dodelike wonde in ‘n daad van huishoudelike geweld toegedien het.

Appolis is aan moord onder huishoudelike geweld verswarende omstandighede skuldig bevind.

Naasbestaandes en gemeenskapslede het vol spanning buite die Strand-landdroshof bymekaargekom om die hofuitspraak af te wag. Foto: Jamey Gordon

Action Society het die skuldigbevinding en vonnis van Appolis tot 22 jaar direkte tronkstraf vir die wrede moord op Lotz, wat ‘n mate van verantwoordbaarheid meebring langer as drie jaar nadat sy op 4 Maart 2023 vermoor is, verwelkom.

Kaylynn Palm, die hoof van Action Society se Aksiesentrum in die Wes-Kaap, het gesê die vonnisoplegging verteenwoordig ‘n belangrike stap na geregtigheid ná ‘n lang en pynlike proses. “Hierdie vonnis bevestig brutale geweld het werklike gevolge. Nadia het haar lewe in ‘n afgryslike aanval verloor en haar familie moes jare van hofverrigtinge verduur om hierdie punt te bereik. Hoewel geen vonnis kan herstel wat van hulle weggeneem is nie, is verantwoording noodsaaklik vir geregtigheid om betekenis te hê.”

Palm het ook die verwoestende impak genoem wat die misdaad op die kinders wat aan die tragedie verbind is, gehad het. “Die diepste tragedie is dat die grootste slagoffers van hierdie misdaad Nadia en Charles se kinders is. Hulle het effektief al twee ouers verloor as gevolg van hierdie daad van geweld. Hierdie is die stilswye slagoffers wat die gevolge van hierdie misdaad vir die res van hul lewe sal dra.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article