Die Lions verskuif dié week hul fokus na die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK), waar hulle Vrydagaand die voorloper op die puntelys in die Skotse hoofstad aandurf.
Die Johannesburgse span het die afgelope paar dae deur ’n baie moeilike tyd gegaan ná die tragiese afsterwe van spanmaat Hyron Andrews voor hul Europese Kampioenebeker-wedstryd teen die Franse reuse La Rochelle.
Ten spyte van die verwoestende verlies van ’n gewaardeerde lid van die groep, is die hulpafrigter Julian Redelinghuys dankbaar vir die ondersteuning wat die internasionale rugbygemeenskap aan die span betoon het.
“Om te sê dit was ’n moeilike week, is waarskynlik ’n onderskatting, maar die ondersteuning wat ons van feitlik almal ontvang het, was enorm,” het Redelinghuys gesê.
“Die hartseer wat almal gevoel het, en die manier waarop dit hanteer is, het opreg gevoel. Die wyse waarop dit plaaslik, oorsee, deur ons leierskap, afrigters, bestuur en spelers hanteer is, was baie respekvol en dit het ons tot ’n groot mate afsluiting gegee.”
Met die oog op Vrydagaand se wedstryd in die Hive-stadion in Edinburgh, verwelkom die Lions die terugkeer van hul gereelde kaptein, Francke Horn, wat verlede naweek se Kampioenebeker-wedstryd misgeloop het. Batho Hlekani begin in die plek van Siba Qoma, wat ’n kopbesering opgedoen het en die vereiste harsingskuddingprotokolle volg.

Die Lions sal ook voordeel trek uit die insette van die stut Boan Venter, wat byna vyf seisoene vir Edinburgh gespeel het voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer en by die Lions aangesluit het. Volgens Redelinghuys gebruik die span Venter se kennis in hul voorbereiding.
“Hy het interessante insigte, omdat hy die spelers, afrigters, veld, omgewing en weerstoestande goed ken,” het Redelinghuys gesê.
“Hy het goeie menings wat ons help met ons voorbereiding. Een opmerking wat hy gemaak het, is dat ons moontlik die eerste helfte in sekere toestande speel en ná rustyd uitkom met heeltemal ander weer.”
“Met die Edinburgh-Stormers-wedstryd [in die tweede ronde] het ons gesien die wind het sterk gewaai in die eerste helfte, maar in die tweede helfte bedaar.”
Elders kry Nico Steyn die kans om op skrumskakel te begin. PJ Botha sal na verwagting van die bank af energie verskaf as haker, saam met Siba Mahashe en Zian Cilliers.
- Afskop in die Hive-stadion is om 20:45 Suid-Afrikaanse tyd.
