Eers Lyon in Frankryk, nou wil Sharks Cardiff in Wallis klop

Die Sharks-stut Ox Nché. Foto: Facebook/SharksRugby.
Die Sharks-stut Ox Nché. Foto: Facebook/SharksRugby.

Die Sharks se hoofafrigter, JP Pietersen, het drie van sy Springbokke teruggebring na die aanvangspan ná hul verpligte rusperiode verlede week vir Vrydag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen Cardiff.

André Esterhuizen keer terug as kaptein, terwyl Ethan Hooker en Edwill van der Merwe op die vleuels ingesluit is. Die voorryspelers Ox Nche en Thomas du Toit is op die plaasvervangersbank aangewys.

Die span kom ná ’n indrukwekkende wegsege oor Lyon verlede week in die Europsese Uitdaagbeker.

Slegs een punt skei Cardiff en die Sharks, met albei spanne wat twee van hul drie wedstryde gewen het en onderskeidelik die vyfde en sesde plek op die VRK-puntelys beklee.

“Hulle is ’n gehaltespan wat takties baie slim is, en dit gaan ’n geweldige stryd wees,” het die hulpafrigter, Warren Whiteley, vanuit die span se basis in Wallis gesê.

Sharks.

’n Kenmerk van die Sharks se vertoning teen Lyon was hul onophoudelike aanslag in die aanval en veral in die verdediging. Hul druk het die Franse spelers tot ongewone foute gedwing, en dit is een van drie groeigebiede waarop die span dié seisoen fokus.

“Die eerste was om vinniger en beter gekondisioneer te wees as ooit tevore, en ons het reeds ongelooflik positiewe tekens op dié gebied gesien.

“Tweedens gaan dit oor fisiekheid. Ons weet rugby is ’n fisieke spel, en ons wil in elke faset van die spel die mees fisieke span wees.

“Dan is daar die onverbiddelike faktor, wat spreek van jou kultuur en die waardes wat die span koester. Wat vir ons verblydend is, is dat ons dit nou begin sien, en baie daarvan kom daarvan dat spelers vir mekaar omgee en in mekaar glo.

“Dit was fantasties om dit verlede week te sien, en ons wil net aanhou groei, beter verbind en nader aan mekaar as groep beweeg.

“Wanneer ons speel, wil ons hê daardie identiteit moet duidelik na vore kom: vinnig, fisiek en onverbiddelik.”

  • Die Sharks speel om 20:45 teen Cardiff.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos