Dat die ANC-regering skielik R10 miljard kon vind om “brandstofverligting” aan te bied, wys hoe groot die brandstofprysdruk op Suid-Afrikaanse huishoudings is. Dit wys ook dat brandstofkoste die vonk kan wees wat die ANC se verkiesingshooimied finaal tot op die grond afbrand. Suid-Afrikaners is keelvol vir die regering se verduidelikings oor brandstofpryssamestellings. Veral wanneer Suid-Afrikaanse brandstof in buurlande soos Eswatini, Lesotho, die DRK, Zambië en Botswana teen aansienlik laer pryse verkoop word.
Die vraag is eenvoudig: Waarom betaal Suid-Afrikaners die hoogste pryse vir brandstof terwyl dieselfde brandstof vir ’n appel en ’n ei na buurlande uitgevoer en daar teen ’n heelwat laer prys verkoop word? Moet ons nie minstens in ons eie behoeftes kan voorsien nie?
Vuisvoos verbruikers kan ook nie onbepaald die verregaande rekening hiervoor bly betaal nie. Die tyd het aangebreek dat burgerlike organisasies hul stem dik maak namens gewone Suid-Afrikaners wie se lewens eksistensieel deur brandstofprysdruk bedreig word. Op soortgelyke wyse is die stryd teen die omstrede e-tolstelsel uiteindelik deur burgerlike verset gewen.
Brandstofprysdruk raak egter elke Suid-Afrikaner. Daarom behoort ons almal ons stemme oor hierdie kwessie nou hard en duidelik te laat hoor. As Suid-Afrikaanse 95-oktaanpetrol in Botswana by die pomp, ná regeringsheffings en winsmarges vir handelaars, slegs R21,95 per liter en diesel R25,23 per liter kan kos, waarom moet Suid-Afrikaners amper 30% méér daarvoor betaal en boonop die ANC op die skouer klop vir ’n maand of twee se “brandstofverligting”?
Genoeg is genoeg.
- Markus Momberg, Pretoria
Skryf aan Die Papier om deel te neem aan dié gesprek en vele ander:
Briewe moet die skrywer se naam, adres en kontaknommer bevat. Die Papier publiseer nie briewe wat reeds elders verskyn het nie.
