WORCESTER – Sowat R250 000 is ingesamel met Solidariteit Helpende Hand se HelpJag Legendes-gholfdag by die Worcester-gholfklub, waar oud-Springbokslot Bakkies Botha saam met ander sportlegendes gespeel het.
Bakkies was op 20 Maart saam met ‘n span waaronder Tobie Botes, Charl Marais, Werner Greeff, Marius Joubert, Marius Schoeman en Dick Muir getel het, deel van die dag se verrigtinge en het bygedra tot die sterk ondersteuning vir die projek. Die geleentheid is tot laataand voortgesit met vermaak deur die kunstenaars Neil Somers en Amore, wat tydens die veiling vir ‘n besonderse atmosfeer gesorg het.

Die geld wat op die gholfdag ingesamel is, word direk aangewend om geskenkte wildsvleis te verwerk en na gemeenskappe oor Suid-Afrika heen te versprei.
HelpJag fokus daarop om die waarde van jagters en boere se bydraes maksimaal te benut deur wildsvleis professioneel te laat verwerk en beskikbaar te stel aan instansies in Solidariteit Helpende Hand se netwerk. Hierdie instansies sluit in kleuterskole, tehuise vir bejaardes en ander gemeenskapsorganisasies wat daagliks vir kwesbare mense sorg.
Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat vanjaar daagliks aan 8 500 kleuters ‘n voedsame bord kos voorsien, is die grootste begunstigde van HelpJag se werk. Die behoefte aan voedsame maaltye neem egter steeds toe, en die vraag na proteïenryke kos strek wyer as net skole.
“Hierdie soort geldinsameling maak dit vir ons moontlik om nie net vleis te ontvang nie, maar dit ook op ‘n volhoubare en verantwoordbare manier te verwerk en te versprei waar dit die nodigste is,” sê Margolé Riekert, hoof van Helpende Hand se projekte.

Die Worcester-gholfdag was die eerste Legendes-gholfdag vir 2026 en ook die derde wat by die Worcester-gholfklub aangebied is.
“Dit is vir HelpJag ‘n voorreg om jaarliks ‘n gholfdag hier aan te bied. Die gemeenskap ontvang ons elke keer met oop arms en dit bevestig hul bereidwilligheid om deel te wees van oplossings,” voeg Riekert by.
Sedert die ontstaan van die projek in 2018 het HelpJag reeds meer as 270 ton wildsvleis ingesamel, verwerk en versprei.
Verskeie geldinsamelings lê nog voor vir die jaar:
• Kimberley-gholfdag – 10 April (in samewerking met die Kriek Wildlife Group);
• HelpJag se eerste wynveiling in Pretoria – 30 Julie (in samewerking met die Neethling Foundation);
• George Legendes-gholfdag – 9 Oktober; en
• Pretoria Legendes-gholfdag – 10 November.
Met ambassadeurs soos Bakkies, Adam Tas, Appel en Jo Black wat hul steun aan die projek gee, groei HelpJag se invloed jaarliks.
LEES OOK: Jo Black sluit hom aan by HelpJag se span om honger te stuit
“Vir Helpende Hand bly dit belangrik om gemeenskappe te bemagtig om self deel te word van die oplossing. Jagters verstaan die waarde van volhoubare benutting. Met HelpJag word daardie waarde omskep in tasbare hulp soos ‘n bord kos vir iemand wat dit broodnodig het,” sê Riekert.
Die publiek kan HelpJag ondersteun deur ‘n geldelike bydrae te lewer of wild vir die projek te skenk.
Elke bydrae word met sorg aangewend om proteïenryke wildsvleis beskikbaar te stel aan behoeftige instansies binne Solidariteit Helpende Hand se netwerk.
Besoek helpjag.co.za vir meer inligting.






You must be logged in to post a comment.