Hilde Kruger, Chandré Oosthuizen en Lizelle Joubert, werkers van Helpende Hand, bedank al die rolspelers.
Hilde Kruger, Chandré Oosthuizen en Lizelle Joubert, werkers van Helpende Hand, bedank al die rolspelers.

In ‘n wêreld waar borskanker daagliks lewens verander, staan medemenslikheid en vroulike solidariteit sterk. Die Boesemvriendinne-projek van Solidariteit Helpende Hand, in vennootskap met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), het hierdie jaar 4507 sagte en liggewig gebreide prosteses beskikbaar gestel vir vroue wat hul borste moes laat verwyder as gevolg van borskanker.

René Roux, hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, sê vir baie vroue is duur silikoonprosteses eenvoudig nie bekostigbaar nie. Hierdie gebreide prosteses bied fisiese gemak en gee vroue die kans om hul selfbeeld, menswaardigheid en gevoel van normaliteit terug te vind.

“Elke prostese is meer as net wol en vulling. Dit is ‘n gebaar van hoop en omgee. Dit is vroue wat vir vroue opstaan,” sê Roux.

Liefde wat in elke steek leef

Roux sê wat hierdie projek besonder uniek maak, is die hart daaragter. “Baie van die prosteses word deur ouer dames gebrei wat elke steek vul met geduld, liefde en sagte aanmoediging. Hulle brei dat dit bars aan die pakkies wanneer dit afgelewer word, met klein ekstra gebreide verrassings wat dikwels ingesluit word om ‘n glimlag saam met elke prostese te stuur.”

ALSO READ: Liefde en omgee het nie altyd woorde nodig nie

Baie van die prosteses is reeds by vroue in gebruik. Ander word in die laaste stadiums van afwerking voltooi, en nog meer is in proses nadat die breipakkies deur die publiek aangekoop is. Elkeen stel nuwe hande in staat om betrokke te raak en verseker dat die ondersteuning aanhou groei.

Landwye verspreiding met Kansa

Helpende Hand, in vennootskap met Kansa, het hierdie jaar 4507 gebreide borsprosteses beskikbaar gestel.

Die prosteses word nie net sentraal oorhandig nie. Verskeie versendings is reeds landwyd via Kansa se kantore versprei sodat vroue in stadsgebiede én klein dorpe die ondersteuning kan ontvang wat hulle verdien. Dit verseker dat geen vrou agtergelaat word nie.

Die amptelike oorhandiging aan Kansa het onlangs by die Voortrekkermonument plaasgevind. Boesemvriendinne se splinternuwe kortvideo is ook daar bekendgestel om meer bewusmaking van borskanker te skep. Besoek https://helpendehand.co.za/boesemvriendinne/ om dit te kyk.

Gemeenskap dra saam

Helpende Hand se vennootskap met SOX en USN het ook aanleiding gegee tot kreatiewe fondsinsameling deur Boesemvriendinne-kouse. Die aankoop van een paar kouse help twee vroue met ‘n paar borsprosteses.

“Hierdie projek wys die krag van gewone mense wat met liefde iets buitengewoon kan doen. Dit is omgee wat klop. Elke bydrae, hoe klein ook al, maak ‘n tasbare verskil,” voeg Roux by.

Die publiek word uitgenooi om aan te sluit, te help brei, of ‘n finansiële bydrae te maak om nog meer vroue te ondersteun.

“Ek het in onkologie gewerk en ervaar hoe diep kanker se letsels strek. Hierdie projek bring letterlik en emosioneel verligting,” sê projekleier Chandré Oosthuizen. Om betrokke te raak stuur ‘n e-pos na chandre@helpendehand.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article