Die Afrikaanse sanger Jo Black gaan nou saam met Bakkies Botha, Adam Tas en Appel sy gewig by HelpJag ingooi. Dié ambassadeurspan werk saam met Solidariteit Helpende Hand om honger te bestry.
Met sy aansluiting snoer vier uiteenlopende, maar eensgesinde, stemme kragte saam om praktiese hulp en hoop na gemeenskappe oor Suid-Afrika heen te bring.
Jo, wat bekend is vir sy groot liefde vir mense en sy passie daarvoor om positiewe verandering mee te bring, sê sy betrokkenheid by HelpJag was vir hom ’n natuurlike besluit.

“Toe ek genader is deur ’n organisasie wat ek reeds ondersteun, was dit ’n ‘no-brainer’. Hier wil ek hand bysit om ’n verskil te maak,” sê Black. “Ons almal wil iets goeds doen. Daar is altyd iets wat iemand kan gee. Dit strek van tyd, vaardighede tot hulpbronne.”
Volgens Jo spruit sy besluit om by HelpJag betrokke te raak uit ’n diep oortuiging dat mens nie onbetrokke kan bly wanneer ander swaarkry nie.
“Swaarkry kry vrye teuels wanneer goeie mense toekyk en niks doen nie,” sê hy.
“Ek kies om my platform te gebruik om bewusmaking te bring en dalk ’n klein verskil te maak. Stilte is ook ’n keuse, en ek glo nie dis ’n keuse wat iemand kan bekostig nie. Daarom is dit vir my ’n voorreg om deel van die HelpJag-span te vorm.”
Vir hom bly hoop die kern van alles wat hy doen.
“Ek staan vir hoop, en hoop is iets wat iemand laat uitsien na môre.”
Volgens Margolé Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand, beteken Jo Black se betrokkenheid veel meer as net groter sigbaarheid vir die projek.
“HelpJag is trots om Jo Black as een van die projek se nuwe ambassadeurs te verwelkom,” sê Riekert.
“Sy opregte liefde vir mense, sy geloofsgedrewe waardes en sy hart vir gemeenskappe sluit naatloos aan by dit waarvoor HelpJag staan. Om ’n bekende kunstenaar saam met Bakkies Botha, Adam Tas en Appel aan boord te hê, versterk nie net die projek se geloofwaardigheid nie, maar gee ook ’n kragtige stem aan HelpJag se boodskap van hoop, samewerking en omgee.”
HelpJag is Solidariteit Helpende Hand se nasionale wildsvleis- en voedselhulpprojek en een van die organisasie se vlagskipprojekte. Sedert die projek bykans nege jaar gelede begin is, is al sowat 280 ton wildsvleis ingesamel en versprei. Die projek dien as ’n aanvullende ondersteuning vir Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat ongeveer 8 000 kleuters in 130 skole landwyd voed.
“HelpJag het ontstaan toe ons besef het hoe groot die behoefte aan proteïen in skole is en hoe hoog vleispryse gestyg het,” verduidelik Riekert.
“Deur jagters te nooi om wild te skenk, kan ons vleis verwerk en versprei na skole en gemeenskappe waar dit die nodigste is.”
Sy sê mense kan op verskeie maniere by HelpJag betrokke raak. Jagters kan oortollige karkasse skenk, terwyl individue en ondernemings geldelik kan bydra om die verwerking en verspreiding van die vleis moontlik te maak.
LEES OOK: Behoeftige leerders kry skooltassies op eerste dag van gr. 1
Met vier ambassadeurs wat nou doelbewus kragte saam snoer, glo HelpJag dat die projek se trefkrag en reikwydte in 2026 betekenisvol gaan groei.
Vir meer inligting oor HelpJag en hoe om betrokke te raak, besoek helpjag.co.za.



You must be logged in to post a comment.