Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief van die Stellenbosch Universiteit, het onlangs die eerste landwye WOW Telfees aangekondig.
Die projek het ten doel om leerders se syfervaardighede en wiskundige denke te versterk deur ’n opwindende en mededingende platform te skep. Danksy die ondersteuning van die Millennium Trust sal die WOW Telfees vanjaar op kring-, distriks- en provinsiale vlak in al nege provinsies van Suid-Afrika aangebied word.
Skole van oor die land heen word uitgenooi om leerders vir die kompetisie in te skryf. Die kompetisie is oop vir laerskoolleerders in Graad 4 tot 7 en hoërskoolleerders in Graad 8 en 9. Die Telfees word in Afrikaans aangebied.
Fokus op selfvertroue en wiskundige geletterdheid
Volgens Fiona van Kerwel, projekbestuurder van WOW, bied die Telfees aan leerders die geleentheid om hul syfervaardighede en wiskundige vermoëns ten toon te stel, terwyl akademiese selfvertroue en skooltrots bevorder word.
“Ons wil wiskundige geletterdheid verbeter en ’n liefde vir wiskunde help kweek deur prettige berekeninge met ’n element van spanning te kombineer,” het Van Kerwel gesê.

Kompetisie strek van Julie tot Oktober
Die kompetisie begin in Julie met kringrondes en word in Oktober met die provinsiale rondes afgesluit. In die meeste gevalle sal die rondes by deelnemende skole aangebied word. Geregistreerde skole sal verdere besonderhede oor datums en venues ontvang.
Die Telfees se formaat en reëls sal aan alle deelnemende skole gestuur word en ook op die WOW-webblad beskikbaar wees.
LEES OOK: Wes-Kaapse hoërskoolleerders skitter in Dink of Sink-debat
Registrasie sluit op 15 Junie
Registrasies vir die WOW Telfees 2026 is reeds oop en sluit op Maandag 15 Junie om 17:00.
Besoek WOW-telfees vir meer inligting en registrasie.
Navrae kan per e-pos gestuur word aan: uswow@sun.ac.za.
LEES OOK: Lig Loop ‘n ode aan jong kankerlyers





You must be logged in to post a comment.