Wat beteken dit om vreesloos te wees?

Veertig leerders van die hoërskole DF Malan, Stellenberg, Durbanville en Brackenfell gaan die naweek uitvind wanneer hulle mekaar die stryd in die eindronde van Radio Tygerberg 104FM se Vreesloos-kompetisie aansê .

Die vier spanne, bestaande uit tien leerders van elke skool, gaan vir 24 uur moet wakker bly terwyl hulle aan individuele en gesamentlike uitdagings deelneem. Die wenskool se span sal met lekker pryse wegstap en natuurlik die eer om die Vreesloos-2025-wenner te wees.

Opwindende uitdagings

Dié vier skole, wat dinge die naweek gaan uitspook, is aan die begin van September aangekondig nadat die Radio Tygerberg-span vroeër vanjaar 11 hoërskole besoek het met ‘n produksie wat op ‘n kombinasie van Fear Factor, Survivor en Mr Beast Games geskoei is. Die aktiwiteite het leerders se verbeelding aangegryp en vir groot pret en opwinding in die saalperiodes gesorg.

Die onderwysers en skoolhoofde is egter nie oorgesien nie en moes ook deelneem om te wys dat hulle vreesloos is.

“Die boodskap wat ons by leerders wil laat, is dat ‘n mens ten spyte van jou omstandighede en eksterne faktore tog vreesloos deur die lewe kan gaan. Kinders dra deesdae soveel laste en ons wil hulle hierdeur bemoedig en bemagtig,” het Radio Tygerberg se stasiebestuurder, Rikus van Rooy, gesê.

Elke deelnemende skool het tydens die Vreesloos-besoek punte verdien. Buiten punte wat vir die uitdagings toegeken is, is punte ook toegeken vir dissipline, skoolgees en interaksie met die stasie se sosiale media.

Eindronde

Die Vreesloos-2025-eindronde begin Vrydag (3 Oktober) om 14:00 in die kosarena van die Tygervallei-winkelsentrum. Dit word voorafgegaan met ‘n uitdaging vir die onderwysers om 13:30.

“Bring die hele gesin om hierdie skole te ondersteun – ek vermoed hulle gaan dit nodig hê!” het Van Rooy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.