Ellis Barker, die eerste hoof van die Paarl-Skool is op 4 Junie oorlede
Ellis Barker, die eerste hoof van die Paarl-Skool is op 4 Junie oorlede

In die geskiedenis van spesiale onderwys in Suid-Afrika staan Ellis Barker uit – `n man wat met visie, onkreukbare integriteit en `n diep empatie `n nalatenskap van hoop geskep het.

As die eerste hoof van die Paarl-skool vir serebraal gestremdes in 1978 het hy nie net `n instansie help bou nie, maar `n toevlug geskep vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes – `n plek waar hulle met waardigheid en deernis ontvang is.

Met sy afsterwe in Junie – op 91-jarige ouderdom – is hy deur dié skool in Brackenfell, waar hy vir 25 jaar hoof was, vereer.

Die huidige skoolhoof, Annaline Norman, sê sy voetspore lê groot en diep by dié skool.

“Die onthou van Paarl-skool se geskiedenis is een ding, maar die nalatenskap wat voortleef in personeel en leerders se lewens en waardes, idees en gewoontes wat hier gevestig is, is wat regtig saakmaak, ongeag of jy 40 jaar gelede in die skool was of tans in die Paarl-skool is,” sê sy.

Toe die Paarl-skool op 18 Julie 1978 leerders die eerste keer ontvang het, was dit die 11de skool van sy soort in Suid-Afrika. Dit was die vervulling van `n lang gekoesterde ideal vir `n groep inwoners van Paarl nadat die sinodale kommissie vir die diens van barmhatigheid van die Nederduitse Gereformeerde kerk in 1962 besluit het dat `n behoefte vir die versorging van serebraalgestremde kinders bestaan.

Grond vir die bou van `n skool is uiteindelik is in 1972 in Brackenfell gekoop.

“Die skool moes naby `n behoorlik toegeruste hospitaal geleë wees – in hierdie geval die Tygerberg-hospitaal – en die ligging van die skool moes in `n stedelike gebied wees sodat gespesialiseerde personeel gewerf kon word. Aangesien inwoners van die Paarl die inisiatief geneem en hulle baie jare lank vir die daarstelling van so `n skool beywer en toe reeds `n bedrag van R100 000 in die Paarl ingesamel het, is uit erkentlikheid besluit om die woord Paarl deel van die skool se naam te maak, vertel Norman.

Die skool is geopen met 37 leerders, van wie 16 koshuisgangers was, en 19 personeellede. Vandag het die Paarl-skool 326 leerders met 105 personeellede, onder wie onderwysers, versorgers, terapeute en administratiewe werkers. Die Wes-Kaapse Oderwysdepartement (WKOD) betaal slegs 47 mense se salaris terwyl die beheerliggaam vir 58 salarisse verantwoordelik is .

“Mnr. Barker se visie was met die opening van Paarl-skool dat die skool binne sy vermoë die bes moontlike diens aan die besondere kinders wat aan ons sorg toevertrou sou word, moes waarborg – hulle huisves, versorg, geestelik weerbaar maak en na hul onderwys en opvoeding omsien. Die harde werk daaraan verbonde moes `n voorreg wees. Hy was die voorloper en baanbreker wat die karakter van Paarl-skool bepaal het.

“Sy opvolgers het hierop voortgebou en Paarl-skool het tot vandag nog dieselfde karakter, visie en etos as in 1978. Ons bestaansdoel is om die leerders by Paarl-skool se potensiaal ten volle te ontwikkel en as bronnesentrum ook die wyer gemeenskap van leerders met spesiale onderwysbehoeftes te dien.”

You need to be Logged In to leave a comment.