DF Akademie se eerste jaarlikse Lig Loop was ‘n onvergeetlike suksesvolle aand wat bewys het wanneer ‘n gemeenskap saamstaan, kan niks hulle keer nie.
Op Woensdag 20 Mei het die RVR DF Tuinklub se eerste Lig Loop ‘n blywende indruk gelaat op almal wat teenwoordig was. Wat as ‘n droom begin het — ‘n informele aandstap oor die pragtige terrein van DF Akademie in Bellville — het gegroei tot ‘n kragtige bewys van wat gemeenskap werklik beteken.
“Die aand was asemrowend,” sê die hooforganiseerder, Lorinda Smit. “Ongelooflike weer, en ‘n gemeenskap wat opgedaag het vir kankerstryders. Dit was iets wat jy moes gesien het om te glo.”
Al was die geleentheid eers vir 18:00 beplan, het die eerste entoesiaste reeds om 17:30 begin toustaan om deel te neem — en die hoogtepunt het gevolg toe al tien die DF-entrepreneurstalletjies se voorraad reeds teen 20:00 uitverkoop was.

“Ek dink nie enigeen was voorbereid vir die massa-opkoms nie,” erken Smit met ‘n glimlag. “Dit was uiters moeilik om vooraf te bepaal hoeveel voete ons uit ons direkte gemeenskap sou lok, maar die gemeenskap het ons meer as verras.”
Die 2,5 km-roete het deelnemers deur die nuwe tuingebiede van die terrein gelei, vergesel van musiek, geselligheid, heerlike eetgoed en ‘n atmosfeer wat warm en feestelik gevoel het.
Die geleentheid was ook ‘n ode aan twee jong mans van DF Akademie se matriekklas van 2025 — een wie se lig te vroeg uitgedoof is, en een wie se stryd steeds voortduur.
LEES OOK: KYK | Ruben leef voort in DF se tuin
Alveolêre Rhabdomyosarkoom is in 2022 by Ruben van Rooyen op 15-jarige ouderdom gediagnoseer. Hy het sy stryd dapper, positief en met aanvaarding gestry — en nooit gehuiwer om ander aan te moedig nie. In 2025, op 18-jarige ouderdom, is sy lig egter gedoof. Dit is hierdie lig wat die RVR DF Tuinklub wil laat aanhou skyn.

Stap vir Zeeman — en vir Ruben
“Vandag skyn die lig op Niël Zeeman se stryd.”
Konvensionele Osteosarkoom is by Zeeman, ook ‘n matrikulant van DF Akademie se klas van 2025, kort ná sy matriekuitslae en sy 19de verjaarsdag gediagnoseer — ‘n kanker in sy regterarm. Sy droom was om argitektuur te studeer, maar weens die intensiteit van sy behandelingsplan is dit tans nie moontlik nie.
Zeeman se behandeling word behartig deur dr. Johann Riedemann by Cancer Care Cape Gate. Dr. Riedemann is ook die hoofstigter van die Childhood, Radiation, Adolescent, Young Adult, Oncology Network (CRAYON) — ‘n samewerkingsnetwerk met Icon Oncology en Cancer Care. Niël se behandelingsprotokol bestaan uit ses vyf-week-siklusse van chemoterapie, gevolg deur ‘n operasie en bestraling. Niël is nie lid van ‘n siekefonds nie en is baie afhanklik van elke donasie.
LEES OOK: Plantwerksessie ‘n reusesukses by DF
Die goeie nuus: die Lig Loop se opbrengs het direk bygedra tot hierdie stryd, met 80% van alle inskrywingsgeld wat ten bate van Zeeman se mediese uitgawes was.

Wil jy verder bydra? Skenk via Back-a-Buddy, of direk. Kontak Smit by 064 694 4930 vir meer inligting.
Smit wil graag die volgende instansies vir hul onmisbare bydrae tot die sukses van die aand bedank:
- DF Akademie — vir die gebruik van die pragtige terrein;
- Cancer Care en CRAYON — “dat julle ons hande gevat het”;
- Cape Tents — vir promosie en konsessies;
- Hoërskool Rosendaal, en Virgil Fritz, Die Tuinkinders — “wat altyd opdaag vir my”!
Lig Loop 2027 reeds in beplanning
Die sukses van die eerste Lig Loop het Smith geïnspireer om reeds aan die volgende een te begin werk.
“Ek is reeds besig om te beplan aan Lig Loop 2027 en nooi alle lesers om ons te ondersteun,” sê sy.
- Wil jy op hoogte bly van alle beplande geleenthede? Volg @tuin.tannie op Instagram vir die nuutste nuus soos dit gebeur.






You must be logged in to post a comment.