Die eerste “Klets en Kuier”-plantwerksessie by DF Akademie (voorheen die Hoërskool DF Malan) was volgens die organiseerder, Lorinda Smit, ‘n “asemrowende sukses” met oorweldigende positiewe terugvoer van deelnemers.
Smit, wat ook die stigter is van die skool se RVR-tuinklub ter nagedagtenis aan Ruben van Rooyen, sê die werksessie-konsep is ontwikkel as ‘n innoverende fondsinsamelingsinisiatief vir die klub se terreinprojekte.
LEES OOK: KYK | Ruben leef voort in DF se tuin
“Die klub moet deurlopend nuwe fondsinsamelingskonsepte genereer om finansiering vir ons terreinprojekte te verseker,” verduidelik Smit. “Vele versoeke deur belangstellendes is deur die loop van 2025 vir plant-werksessies gerig.”

Die “Klets en Kuier”-konsep, wat deur Smit self geskep is, dien as ‘n informele platform om saam te leer en ook as sosiale geleentheid vir bewusmaking.
Die eerste werksessie was oor vetplante en het 15 deelnemers gelok – ‘n getal wat doelbewus beperk is om persoonlike aandag per deelnemer te verseker.
“As eerste ‘Klets en Kuier’-geleentheid was ek onseker oor die ontvangs wat die geleentheid as geheel sou geniet,” erken Smit. “Ouers, onderwysers, leerders en belangstellendes van buite het met entoesiasme op ‘n tafel vol plantsteggies en ander spesiale ekstras toegesak.”
LEES OOK: DF kry nuwe skoolhoof
Deelnemers is veral beïndruk deur die detail van die antieke koppies en ander klein dekor-artikels wat aan elkeen verskaf is. ‘n Groot verskeidenheid vetplantsteggies is voorsien om plantmoontlikhede in elke koppie eindeloos te maak.

Die beste terugvoer van die dag was van deelnemers wat gesê het: “Lorinda, dit was ongelooflik! Ek voel of ek met vakansie was,” het Ansie Myburgh gesê.
Natasha Naudé was oorstelp: “Ek woon nooit skoolgesellighede by nie. Hierdie sal ek oor en oor bywoon. Dis net anders.”
Praktiese wenke gedeel
Deelnemers het waardevolle plantgeheime geleer, insluitend:
- Gebruik ‘n houer wat goed dreineer;
- Gebruik geskikte grond wat maklik dreineer;
- Water wyslik: as blare pap lyk, gee jy te veel water;
- Verseker 4 tot 6 ure oggendson of lig;
- Vir luise: spuit met neem-olie of ‘n oplossing van Sunlight-vloeistof en knoflok-olie in water.
- Die volgende “Klets en Kuier”-sessie op 29 Mei sal oor kruie en groente handel – ‘n onderwerp wat deur die eerste deelnemers gekies is.
“Ek het vir my eerste deelnemers vetoreg gegee en dit was hul besluit,” sê Smit. Die werksessie sal ‘n groente- of kruie-plantbak, potgrond en kompos, seisoenale kruie- en groentesaailinge en magrietjiesaailinge insluit. Die oggend sal oor die organiese verbouing van groente en kruie deur middel van ‘n plantmaatstelsel handel.
LEES OOK: Skool se groentetuin strek helpende hand uit na bejaardes in gemeenskap
Toekomstige werksessies sal op spesifieke navrae fokus, insluitend rose, orgidieë en begonias.
Die RVR-tuinklub by DF Akademie is ‘n gedenktuin en is afhanklik van borgskappe en gemeenskapsondersteuning vir sy projekte.
- Bel Lorinda Smit by 064 694 4930 vir meer inligting oor toekomstige werksessies en die tuinklub.






You must be logged in to post a comment.