AfriForum het op 8 Mei sy tweede van ses provinsiale uitdunrondes van sy Dink of Sink- onvoorbereide-debatskompetisie by DF Akademie in die Wes-Kaap aangebied. Altesaam 159 hoërskoolleerders van 16 skole het daaraan deelgeneem.
Die doel van die Dink of Sink-kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit deelnemers toerus met ‘n noodsaaklike vaardigheid wat hulle in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Gedurende die dag het 53 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe. Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek, het die leerders se prestasies geprys.
“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ‘n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en doeltreffend te debatteer duidelik na vore gebring,” het Müller gesê.

Junior kategorie
In die junior kategorie (gr. 8 en 9) het Karu Rademeyer, Ané Swanepoel en Emma Snijders van die Hoërskool Jan van Riebeeck eerste plek behaal. Livia Lategan, Heleen-Mari Viljoen en Micke Gildenhuys van die Hoër Meisieskool La Rochelle was die naaswenners.
In die senior kategorie (gr. 10, 11 en 12) het Cayla Fourie, Anouk Gerber en Saskia Cloete van die Hoërskool Durbanville die goue trofee gewen. Dieter de Kock, Ben van Niekerk en Altus de Villiers van Paul Roos Gimnasium het as naaswenners geëindig.
“Die hoërskooldebatspanne het ‘n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” het Müller gesê.




