Leerders van DF Akademie is onlangs besoek deur beamptes van die Bellville-polisiekantoor vir ‘n alkohol- en dwelmbewusmakingsveldtog wat ‘n blywende indruk gelaat het.
Sers. Charles Neelse en kapt. Shaun Adams het die voorlegging aangebied met die doel om jong mense bewus te maak van die gevare wat dwelms en alkohol inhou.
Sers. Neelse se aanbieding het gefokus op die druk wat tieners daagliks ervaar — die verleiding om in te pas by vriende deur te drink, dwelms te gebruik, skoolpligte te versuim, en betrokke te raak by skoolgevegte. Hy het leerders herinner dat een verkeerde keuse hul hele toekoms en loopbaan kan vernietig.
LEES OOK: Leerders oor boeliegedrag ingelig
Die aanbieding het ses sleutelgebiede gedek, naamlik die fisiese gevare van alkohol- en dwelmgebruik, die geestelike en emosionele gevare, die uitwerking op gesins- en sosiale verhoudings, die impak op leerders se toekoms en loopbaanmoontlikhede, riskante gedrag, asook die regsimplikasies wat met dwelm- en alkoholgebruik gepaard gaan. Elke afdeling is volledig toegelig sodat leerders ‘n duidelike begrip kon kry van die werklike uitwerking wat hierdie middels op hulle liggaam, gedagtes en toekoms het.
LEES OOK: Neelse hier vir gemeenskap
Die aanbieding is afgesluit met ‘n kragtige leuse wat sekerlik by baie leerders ingesink het:
“Not everyone will end up in jail, but everyone who is in jail, started with one bad choice.”





