Hiermee die vierde aflewering van ‘n reeks wat ‘n Noord-Kapenaar oor die lewe saam met ‘n narsistiese ma geskryf het. Vir vorige aflewerings, besoek novanews.co.za/noordkaapbulletin/ en klik op “Opinion“.
Ek is in die laerskool.
Uiteindelik het die tyd aangebreek om met vakansie Hermanus toe te vertrek.
Vanaand slaap ons oor in Mosselbaai. Die woonwa is klaar gehaak en ons laai die laaste bagasie in die voertuig. My pa stel die motor se hoofligte en sluit die agterdeur. My broer is alreeds saam met vriende Sodwana toe.
Ek trek swaar. Ek is te klein om enigiets van emosionele mishandeling te verstaan. Al wat ek weet is dat ek nie die res van my skoolloopbaan so kan deurbring nie. Daar moet iewers ‘n oplossing wees.
Toe ons laataand in Mosselbaai se woonwapark indraai, sien ek ‘n bordjie langs die pad met ‘n pyltjie wat na regs wys: “Polisie 100m.”
Ons maak die woonwa staan en sukkel in die sterk wind om die deur oop of toe te kry. Nadat ons die res van die padkos geëet het, gaan ons tande borsel en inkruip. Dit is later as wat ons beplan het.
Teen die tyd dat ek in my bed klim, dink ek aan die bordjie wat ek vroeër die aand gesien het. Een honderd meter is nie ver nie. As ek later, as my ouers slaap, na die polisiestasie toe stap en sê dat ek nie meer in hierdie huis wil bly nie, behoort hulle my te kan help.
Ek vroetel saggies in die donker rond. Ek trek my kortbroek en T-hemp aan en trek die kombers tot teen my ken. My asemhaling is vlak en senuweeagtig.
Die wind waai van sterk na stormsterk na nog sterker. Ek het nie besef ‘n wind kan so sterk waai nie. Geduldig wag ek in my bed. Dit sal een of ander tyd bedaar. Dit sal net moet.
‘n Paar ure later lê ek steeds oopoog die donkerte en instaar toe die wind begin bedaar. Ek gooi die kombers van my af en sit oor die rant van die bed en trek baie stilletjies my plakkies aan.
Ek dink ‘n oomblik oor my plan na.
My moed begewe my. Ek klim terug in die bed. Trane rol vrylik oor my wange.
Narsiste breek hul slagoffers so af dat hulle vir niks kans sien nie. Nie eens om weg te kom wanneer die geleentheid homself voordoen nie.
Ná maande of jare of dekades van emosionele mishandeling word die eie-ek van ‘n slagoffer heeltemal verwoes.
Die narsis het sy of haar doel bereik – die slagoffer bly. Uit vrees. Uit wanhoop.
Die onsigbare dekmantel wat oor emosionele mishandeling hang maak dat slagoffers nie herken of gehelp word nie. Jy moet self probeer oorleef.
- Ek skryf oor hierdie littekens wat ek in my hart ronddra om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie. As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.


