Hiermee die inleiding van ‘n reeks oor narsisme wat deur ‘n Noord-Kapenaar geskryf is. Die persoon, wat van jongs af daaraan blootgestel was, is eers dekades later gereed om hieroor te praat.
Hulle leef tussen ons. Sielkundiges verwys na hulle as narsiste. Hierdie mense wat van ander mense se aandag en energie en emosies, positief of negatief, afhanklik is vir oorlewing.
Hul instinkte is baie beter as die gemiddelde, normale mens s’n.
Hulle kom dalk nie so voor nie, maar hulle is berekende individue – hulle teiken die goedhartiges, hulle teer op die niksvermoedendes, hul planne is sekuur agtermekaar. Altyd ‘n stap of twee voor ons.
Die woord “narsis” ontketen onwillekeurig ‘n prentjie in jou kop. Ondergrondse kerkers. Ver-afgeleë tronke met dik klipmure. Onversorgde liggame. Verwilderde oë. ‘n Lys van veroordelings so lank soos jou arm.
Ongelukkig is dit nie so maklik nie. Hulle lyk soos ons. Praat soos ons. Leef soos ons. Meester-manipuleerders wat ons so maklik ‘n rat voor die oë draai: die vriendelike buurman, die gewilde onderwyser, die plaaslike predikant. In my geval – my eie ma.
Wanneer jou pad op ‘n latere ouderdom so ‘n mens s’n kruis, kan jy uitredeneer waarom hierdie mens eerder verder op sy eie weg moet gaan.
Maar dit is wanneer jy van geboorte af aan so ‘n persoon onderwerp word, deur hom of haar geleer word en voorberei word op die toekoms, dat dit ‘n tameletjie raak om die paaie te laat skei. Die emosionele ouer-kind-band is sterker as enige staal.
As ‘n mens intensief navorsing doen oor die onderwerp waarsku die inligting jou dat jy nie net jou eie afleidings mag maak nie. Almal van ons vertel van tyd-tot-tyd ‘n leuen, sukkel in ‘n mindere of meerdere mate met paranoia, om heeltyd in beheer te wil wees of om nimmereindigende opwinding na te jaag.
Dit opsigself maak nie van jou ‘n narsis nie. Dit maak van jou ‘n normale mens wat jou weg op aarde probeer vind.
Hou beheer oor slagoffer
Ironies genoeg probeer die narsis en slagoffer albei, om verskillende redes, net oorleef. As slagoffers baie moeite doen en hulleself daaraan toewy om te herstel is dit moontlik. Die trauma wat narsiste aanrig, is onmeetbaar en geweldig ingewikkeld. Om so ‘n lewe te oorleef is opsigself ‘n uitdaging.
Narsiste se ego’s is so opgeblaas dat hulle nie sal oorleef as hul ego’s skade ly nie. Die beheer wat hulle oor slagoffers het, die feit dat hulle byna verafgod moet word, die vernietiging van verhoudings – dit alles ter wille daarvan om hul ego’s te beskerm.
In die volgende paar maande gaan ek brokkies van my lewensverhaal weergee.
Mense skryf om verskillende redes. Sommige mense is bekend en wil graag deur die nageslag onthou word. Ander het ‘n storie om te vertel wat mense kan aanraak.
My rede? Om vorm te gee aan die wonde en littekens wat ek in my hart ronddra. Om ‘n fisieke bewys te hê van ‘n lewe wat ek nie wou leef nie.
As dit iemand kan help om uit die wurggreep van narsisme weg te breek, soveel beter.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


