William Radloff, die voorsitter van H2AAA.

Die familieboerenetwerk Saai het ‘n vereniging van stapel gestuur vir agentskappe wat Suid-Afrikaners help om werk op plase in die VSA te kry.

Die vereniging, H2A Agency Association, of H2AAA, het ten doel om die integriteit van die professie, sowel as die geleenthede wat jaarliks aan Suid-Afrikaners en plaaswerkers van elders in die wêreld gebied word, te beskerm en te bevorder.

H2A is ‘n tydelike visumprogram wat boere in Amerika sedert 1952 in staat stel om seisoenale werkers uit verskeie lande reg oor die wêreld te werf om op hul plase te werk.

In die 2024-’25-seisoen het sowat 25 000 Suid-Afrikaners aan die program deelgeneem. Boere in Amerika skakel meestal met agentskappe wat werksaansoekers keur, hulle met administratiewe en reisreëlings bystaan en as tussenganger tussen Amerikaanse boere en Suid-Afrikaanse werkers optree.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie, sê as soortgelyke geleenthede vir jong mense in Suid-Afrika beskikbaar was, sou daar nie soveel van hulle elke jaar in Amerika gaan boer nie.

“Hulle werk met vee, bestuur plase, tree as masjienoperateurs, trekker- en vragmotordrywers op en is veral tydens plant- en oestyd baie besig.

“Wanneer hulle terugkom, is dit met veel meer as net kapitaal om verder te studeer of eiendom te koop. Hulle bring ook waardevolle ervaring met die nuutste tegnologie en blootstelling aan internasionaal mededingende landbou- bestuursmodelle terug.”

Volgens William Radloff van Agriplacements International Agency, die nuut- verkose voorsitter van H2AAA, gaan boere in Amerika groot onkoste aan om Suid-Afrikaanse werkers op hul plase te kry. Wanneer dié werkers in Amerika aankom, word hulle toenemend deur sekere agente na ander boere gelok, wat die reputasie van die Suid-Afrikaanse aanbod skade berokken.

“Ons Suid-Afrikaanse aansoekers is gewild omdat hulle toegewyde en hardwerkende mense is, met goeie ervaring en vaardighede. Dit is dié reputasie wat ons ten alle koste moet beskerm. As ‘n nasionaliteit eenmaal ‘n reputasie kry dat hulle nie lojale werkers is nie en van plaas tot plaas spring, verkies boere ander werkers, en ons H2A-agentskaps- vereniging gaan daarop fokus om die aansien en handelsmerk van Suid-Afrikaanse plaaswerkers te beskerm.”

Francois Rossouw, die hoof van Saai, sê hoewel die vereniging nie kan verhoed dat Amerikaanse boere en Suid-Afrikaanse aansoekers met enigiemand of instansie wat voorgee om ‘n voetspoor in die bedryf te hê, sake doen nie, kan die risiko’s beklemtoon word.

“Saai bedryf hierdie vereniging met ‘n gedragskode wat deur alle lede onderteken word. Die grondwet van die vereniging maak voorsiening vir ‘n integri- teitskomitee wat die gedragskode moet toepas, klagtes kan ontvang, dit deursigtig ondersoek en stappe teen onetiese gedrag kan neem. Enige aansoeker in Suid-Afrika, of boer in Amerika, wat met ‘n agentskap sake wil doen, kan op die webwerf sien of die agentskap hom aan die gedragskode onderwerp en in goeie aansien is. As so ‘n agentskap nie ‘n lid is wat aan die gedragskode onderworpe is nie, moet klante verstaan dat hul risiko groter is,” sê hy.

De Jager sê hulle is reeds vir ‘n geruime tyd met H2A-agentskappe in gesprek en die inisiatief om H2AAA te stig, het uit die bedryf self gekom.

“Dit is ‘n vereniging vir die bedryf, uit die bedryf.

“Ons is dankbaar vir die wye steun wat ons in die aanloop tot die stigting gekry het, met die oorgrote meerderheid agentskappe as stigterslede. Daar is sekerlik nog agentskappe wat ons in ons kommunikasiepoging gemis het, maar ons hoop om hulle so gou moontlik ook aan boord te kry,” sê hy.

 William Radloff is onlangs as voorsitter van die vereniging verkies; Charlotte Portwig as adjunkvoorsitter; Gideon Jacobs as sekretaris; Frederik Visser as tesourier; en Callie Visagie as sameroeper van die integriteitskomitee.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article