Die bekendstelling van die boek Crossing Boundaries, wat op ‘n doktorale studie van dr. Jeremy van Wyk gegrond is, plaas die onderrigrolle van Suid-Afrikaanse laerskoolhoofde onder die vergrootglas.
Van Wyk, wat in Pniël grootgeword en in 1975 aan die Noorder Paarl Hoërskool matrikuleer het, sê die primêre doel van hierdie studie was om die geleefde ervarings van laerskoolhoofde ten opsigte van hul onderrigrolle te ondersoek. Die studie is in 2020 gedoen.
“Die studie het aan die lig gebring dat die deelnemende Suid-Afrikaanse laerskoolhoofde as gevolg van ‘n gebrek aan toepaslike onderrigpraktyke om onderrig en leer te verbeter en omdat hulle die meeste van hul onderrigrolle aan hul senior personeellede delegeer, min ervaring van hul onderrigleiersrolle het.
“Ons beveel aan dat hierdie skoolhoofde meer betrokke raak by hul kernonderrigrol, naamlik om onderrig en leer te verbeter. Hulle moet ook deurlopend hul eie professionele ontwikkeling, sowel as dié van hul personeellede, bevorder ten einde toepaslike kennis en vaardighede te bekom om hul eie onderrigleerpraktyke te verbeter.”
Van Wyk het self ook sy loopbaan in die onderwys as onderwyser gevestig toe hy heelwat jonger was. Hy het reeds langer as 40 jaar ondervinding en dit sluit verskillende rolle in – van skoolhoof tot hoof van ‘n departement en universiteitsdosent. Van Wyk het homself deur die jare verder met verskeie kwalifikasies bemagtig.
“As voormalige hoof van ‘n gemeenskapsleersentrum het ek ‘n omvattende begrip van die kompleksiteite betrokke by onderwys en gemeenskapsontwikkeling.”
Die bekendstelling was Maandag (29 September) by die Drakenstein-biblioteek in Paarl-Oos en is deur verskeie onderwysers bygewoon.
Die boek handel verder oor laerskoolhoofde se stemme oor die oorkoming van uitdagings in onderrigleierskap in die Verenigde State van Amerika (VSA) en Suid-Afrika.
“Onderrigleierskap is ‘n leierskapsbenadering, wat gefokus is op die doelbewuste verbetering van onderrig- en leeruitkomste deur hoofsaaklik op kurrikulum, onderrig en leerdervordering te fokus.
“Dit behels die ondersteuning van onderwysers se professionele ontwikkeling, die skep van hoë verwagtinge vir leerders, die monitering van leervordering en die bevordering van ‘n positiewe leerkultuur.
“Hierdie leierskapstyl het ontstaan uit navorsing oor doeltreffende skole in die 1980’s in die VSA en word sedert die 2000’s deur die Nasionale Departement van Basiese Onderwys as ‘n belangrike komponent van skoolsukses in Suid-Afrikaanse skole erken.”
Volgens Van Wyk is die boek ‘n dwingende oproep om te herleef en te heroorweeg wat dit beteken om ‘n onderrigleier in vandag se wêreld te wees.
“Deur middel van boeiende stories van laerskoolhoofde uit twee heeltemal verskillende omgewings in Suid-Afrika en die VSA sal lesers die uitgebreide wêreld van onderrigleierskap verken. Hierdie boek is ‘n moet-lees vir skoolhoofde, adjunkhoofde, departementshoofde, onderwysers of enigiemand wat daartoe verbind is om leerderuitkomste te verbeter.”
Van Wyk – én sy boek – word ook ondersteun deur sy vrou, Caroline, met wie hy al 41 jaar getroud is. Die paartjie woon al jare lank in die Paarl.
• Indien enigeen belangstel om Van Wyk se boek te koop, kan hulle hom persoonlik via WhatsApp by 082 436 6393 of per e-pos by jerrymark@telkomsa.net kontak.



