Stephan van den Berg (33) is in Amerika oorlede.
Stephan van den Berg (33) is in Amerika oorlede. FOTO: Facebook

WELKOM. Boodskappe van meegevoel stroom in ná die gruweldood van ‘n jong Vrystater in Amerika.

Stephan van den Berg (33), ook bekend as Sakkie, is op 9 Oktober dood toe die stroper waarop hy gery het onder ‘n trein beland het. Die ongeluk het in Page, Noord-Dakota, plaasgevind.

Volgens sy boesemvriend, Charles Hughes, word ‘n gedenkdiens op Saterdag 18 Oktober vir Van den Berg in Amerika, asook Bultfontein in Suid-Afrika, gehou.

Hy sê Van den Berg was ‘n goeie vriend, wat sowat sewe jaar gelede na Amerika is om ‘n beter lewe vir homself te maak.

“Hy was in die finale stadium om ‘n groenkaart te bekom.”

Van den Berg was ‘n Bultfonteiner, gebore en getoë, en het in 2010 aan die Hoërskool Bultfontein gematrikuleer.

Volgens berigte het die ongeluk behels dat die stroper waarop Van den Berg gery het deur ‘n goederetrein naby die stad Page getref is.

Die ongelukstoneel waarin Stephan van den Berg sy lewe verloor het. FOTO: Facebook

Volgens plaaslike nuuspublikasies in Amerika het die trefkrag van die botsing die lokomotief aan die brand laat raak en het ongeveer 20 waens ontspoor. ‘n Foto van die toneel wys dat ‘n treinwa op die stroper geval het.

Van den Berg is op die toneel dood verklaar. Die treindrywer en masjinis was ongedeerd ná die voorval.

Sy suster Samantha van den Berg sê op Facebook dat dit met ongelooflike hartseer is dat sy die nuus van haar broer se dood met vriende en familie deel.

“Sy afsterwe was skielik en weens onvoorsiene omstandighede, wat sy familie en vriende in diep skok en hartseer gelaat het. Hy was meer as net ‘n broer – hy was ‘n lig in ons lewens, ‘n bron van lag, liefde en krag. Om hom te verloor het ‘n leemte gelaat wat woorde nie kan vul nie. Ons neem tyd as familie en vriende om te treur en hierdie geweldige verlies te verwerk. Ons vra vriendelik vir geduld en begrip terwyl ons deur al die boodskappe, oproepe en aanhangsels gaan wat gestuur is – elke woord en herinnering wat gedeel word, beteken die wêreld vir ons, en ons sal dit koester wanneer ons kan,” het sy ná sy dood op Facebook geskryf.

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel in die VSA (SACCUSA) betuig sy diepste meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van die jong Suid-Afrikaanse H2A-landbouwerker en stroperbestuurder wat tragies sy lewe verloor het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article