Kaapse berg kwagga
‘n Kaapse berg kwagga dwaal tans in Franschhoekpas rond. Foto: Verskaf

FRANSCHHOEK – ‘n Kaapse bergkwagga hardloop sedert Saterdagaand (25 Oktober) in die Franschhoekpas rond nadat dié jong vulletjie, waarskynlik vanuit ‘n nabye CapeNature natuurreservaat ontsnap het.

Volgens Juani Beukes, een van die direkteure van Safe Hands Animal Rescue Franschhoek, het sy en haar span die eerste oproep oor die verdwaalde kwagga omstreeks 20:00 op Saterdagaand ontvang. Hulle het daarna inderhaas, in donker en reënerige toestande, na die pas vertrek om die vulletjie – ’n merrie – op te spoor.

Beukes verduidelik dat sy en haar span op daardie oomblik gedink het “Fransie,” soos wat hulle die kwagga gedoop het, behoort aan ‘n nabye plaas.

Dus het Beukes en haar span vir die kwagga stelselmatig probeer “afdruk” van die pas waar sy op die pad gewaar was na die plaas wat destyds zebra’s besit het, maar wat volgens Beukes, intussen nie meer dié diere aanhou nie.

Die Kaapse berg kwagga wat tans in Franschhoekpas ronddwaal. Video: Verskaf

Die kwagga is as “Fransie” gedoop omdat sy glo gereeld naby die Franschhoek-teken wat met klippe op die berg naby die pas uitgepak is, gewandel het.

Die volgende oggend (26 Oktober) omstreeks 08:00 kry Beukes en haar span toe wéér ‘n oproep dat die kwagga op ‘n ander plaas in dieselfde omgewing, genaamd Middagkrans, is waarna sy weer teruggehardloop het na die Franschhoekpas.

Beukes sê CapeNature is op dieselfde dag uiteindelik gekontak om hulp te verleen, waarna van hul wildsbewaarders die pas besoek het om “Fransie” oor die pas te kry terug na die natuurreservaat.

LEES OOK: Young leopard dies after being caught in gin traps near Heidelberg

Dit het ongelukkig nie vrugte afgewerp nie, en gistermiddag (27 Oktober) is die kwagga weer hoog in die berg bo die pas gewaar, waarna van die bewaarders berg op is om haar te probeer “afdruk na die pad toe sodat hulle haar padlangs oor die pas kon kry na die natuurreservaat.”

Dit blyk immers die kwagga speel ‘n kat-en-muis-speletejie, want sy het toe wéér die bewaarders ontvlug en het hoër op in die berg gehardloop.

Beukes het toe gisteraand ongeveer 18:00 weer ‘n oproep ontvang dat sy op die plaas is waarheen sy en haar span die kwagga oorspronklik na gelei het, waarna sy daar oornag het.

Vanoggend het CapeNature en ‘n veearts reggestaan by dié plaas om die kwagga met ‘n verdowingsmiddel in te spuit, maar sy is toe weer skoonveld.

Volgens Beukes hou sy en haar span aanhou soek na dié vulletjie sodat sy veilig terugbesorg kan word aan CapNature.

LEES OOK: KYK | Paarl-bobbejaan se aapstreke in dorp vir eers verby

You need to be Logged In to leave a comment.