Dr .Theo de Jager (voorsitter van Saai), prof. Peer Ederer (voorsitter van die WFO se wetenskaplike raad) en Luigi Scordamaglia van Coldiretti tydens die G20-Boeredialoog wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is. Foto: Verskaf
Dr .Theo de Jager (voorsitter van Saai), prof. Peer Ederer (voorsitter van die WFO se wetenskaplike raad) en Luigi Scordamaglia van Coldiretti tydens die G20-Boeredialoog wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is. Foto: Verskaf

STELLENBOSCH – Boere van oor die wêreld heen het vandeesweek by die fakulteit landbou- en bosbou-wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch vir die G20-Boeredialoog byeengekom.

Die G20-Boeredialoog is deur die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) aangebied.

Die twee uur lange hibriede geleentheid wat Woensdag 17 September plaasgevind het, het die plaaslike afgevaardigdes en digitale deelnemers van Europa, Noord-Amerika, Asië en Afrika byeengebring om te verseker dat die egte stem van die boere in die wêreldwye beleidsdebatte verteenwoordig word.

Die dialoog het op vier kern temas gefokus: familieboerdery; digitalisering, innovasie en kunsmatige intelligensie (KI); vee en proteïene; en handel en voedselsekerheid. Die insette sal die basis van ’n boere-verklaring vorm wat in November by die G20-Staatshoofberaad in Johannesburg voorgelê sal word.

Dr .Theo de Jager (voorsitter van Saai), prof. Peer Ederer (voorsitter van die WFO se wetenskaplike raad) en Luigi Scordamaglia van Coldiretti tydens die G20-Boeredialoog wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is. Foto: Verskaf
Dr. Theo de Jager (voorsitter van Saai), prof. Peer Ederer (voorsitter van die WFO se wetenskaplike raad) en Luigi Scordamaglia van Coldiretti tydens die G20-Boeredialoog wat by die Universiteit Stellenbosch aangebied is. Foto: Verskaf

KOLLIG OP FAMILIEBOERDERY

Tydens die opening van die dialoog het Ettore Prandini, president van Coldiretti (Italië), die wêreldwye betekenis van familieboerdery beklemtoon: “Familieboere is wêreldwyd die pilare van landbou. Hulle produseer die meeste van die wêreld se kos, beskerm biodiversiteit en onderhou landelike gemeenskappe. Sonder familieboere is daar geen voedselsekerheid, geen voedselsoewereiniteit en geen vrede nie,” het hy aangevoer.

Rob Larew, president van die National Farmers Union (NFU) in die Verenigde State van Amerika, het op sy beurt gewaarsku teen die groeiende mag van monopolieë. “Te dikwels is daar te min korporatiewe monopolieë wat nadelig is vir die onafhanklikheid van familieboere,” het Larew gesê. “Regerings moet besluit: óf aanvaar die beleide wat onafhanklike boere ondersteun, óf aanvaar die verantwoordelikheid vir die uitkalwing van voedselsekerheid en -soewereiniteit.”

Keith Currie, president van die Canadian Federation of Agriculture, het die belangrikheid van beskerming in die digitale era uitgelig en gesê boere wil die tegnologie benut. “Maar ons het regerings nodig om deursigtigheid en integriteit te verseker sodat boere se data nie misbruik word nie en hulle onafhanklikheid sodoende beskerm word,” het hy gemaan.

Oliver Flake (VSA-ambassade) en Bennie van Zyl (TLU SA) was ook deel van die dialoog in Stellenbosch. Foto: Verskaf
Oliver Flake (VSA-ambassade) en Bennie van Zyl (TLU SA) was ook deel van die dialoog in Stellenbosch. Foto: Verskaf

Op sy beurt het Bennie van Zyl van TLU-SA die plaaslike én wêreldwye waarde van familieboerdery beklemtoon: “Familieboerdery is die ruggraat van ons landelike gemeenskappe en ’n onmisbare skakel tot wêreldwye voedselsekerheid. Om familieboerdery te beskerm, is nie net ’n plaaslike saak nie – dit is ’n wêreldwye belegging in stabiliteit, voedselsekerheid en volhoubaarheid.”

AJ Mthembu, president van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), het die belang van inheemse kennis en veerkragtigheid beklemtoom deur aan te voer dat familieboere die grondslag vir voedselsoewereiniteit is.

“As ons hulle verloor, loop ons die risiko van wêreldwye voedselsekerheid. Tegnologie moet gebruik word om hierdie grondslag te versterk, nie te vervang nie.”

DRUK OP VEE EN PROTEÏENE

Die dialoog het ook die toekoms van vee en ander dierlike proteïene aangespreek. Prof. Peer Ederer, voorsitter van die World Farmers’ Organisation (WFO) se wetenskaplike raad, het teen misleide beleidsrigtings gewaarsku.

“Verskeie prominente regerings verminder aktief hulle voedselproduksie en beperk uitvoere van dierlike proteïene – selfs terwyl die wêreld dit meer as ooit nodig het,” het hy gesê. “Dit is ‘n ideologie, nie wetenskap nie. Dierlike voedsel is voedsaam, nie gevaarlik nie, en volhoubare veeboerdery beskerm die ekologiese balans.”

Coldiretti se Luigi Scordamaglia het ook teen die monopolisering van alternatiewe proteïene gewaarsku. Volgens hom is laboratorium-vleis die teenoorgestelde van familieboerdery. “Dit konsentreer mag in die hande van ’n paar multinasionale maatskappye. Ons moet deursigtigheid in etikettering verdedig en die werklike boer se bestaan beskerm.”

AJ Mthembu, president van Afasa, het die belang van inheemse kennis en veerkragtigheid onderstreep. Foto: Verskaf
AJ Mthembu, president van Afasa, het die belang van inheemse kennis en veerkragtigheid onderstreep. Foto: Verskaf

DIGITALISERING EN HANDEL

Die dialoog het ook op digitalisering en KI gefokus.

Ederer het die rol van “vertroue-ingenieurswese” deur groot data bespreek as ’n middel om finansiering en waardekettings te herstruktureer. Afgevaardigdes uit Italië het hul model gedeel waar klein boere geïntegreer word in gedeelde datastelsels wat Europa se hoogste landbouwaardetoevoeging skep.

Oor handel en markte het Carmelo Troccoli, direkteur van die Wêreldboeremark-koalisie, gepleit vir sterker plaaslike voedselstelsels. “Dit is paradoksaal dat landelike gebiede waar kos geproduseer word, dikwels dieselfde plekke is waar voedselsekerheid die swakste is. Boere moet nie net produseer nie – hulle moet ook die reg hê om direk te verkoop en hul gemeenskappe te onderhou,” het Troccoli aangevoer.

Ten spyte van verskillende perspektiewe het ’n gemeenskaplike tema duidelik na vore gekom: die dringende behoefte om die onafhanklikheid, winsgewendheid en volhoubaarheid van familieboere in ’n vinnig veranderende wêreld te beskerm.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het afgesluit: “Vandag het boere van oor die wêreld heen met een stem gepraat. In ’n wêreldwye voedselsisteem onder druk van verkorporatisering, veranderende handelsomgewings en alternatiewe proteïene, bly familieboere die hoeksteen van voedselsekerheid en landelike lewe. Hierdie dialoog verseker dat die egte stem van boere by die G20-beraad gehoor sal word.”

You need to be Logged In to leave a comment.