Paarl Post

PA beskuldig van ‘onwettige politieke veldtogvoering’ by Paarlse skool

Lede van die Patriotic Alliance (PA) deel verlede week krieket oerusting by Ligstraal Primêre Skool in die Paarl uit. Foto: Skermgreep
Lede van die Patriotic Alliance (PA) deel verlede week krieket oerusting by Ligstraal Primêre Skool in die Paarl uit. Foto: Skermgreep

Die DA in die Wes-Kaap het ‘n beroep op die provinsiale onderwysdepartement gedoen om ondersoek in te stel na wat hy bestempel as onwettige politieke veldtogvoering deur die Patriotic Alliance (PA) by ‘n laerskool in die Paarl.

Op foto’s wat op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe mense in PA-klere verlede week kriekettoerusting by Ligstraal Primêre Skool in Paarl-Oos uitdeel.

Volgens Peter Johnson, die DA se provinsiale woordvoerder oor onderwys, is sulke aktiwiteite onwettig ingevolge Artikel 33A(1)(2) van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996.

“Saamgelees met Artikel 46(B) van die Wes-Kaapse Provinsiale Skolewet van 1997 stel die wette dit duidelik geen politieke party-aktiwiteite mag gedurende skooltyd by ’n skool plaasvind nie.

“Dit sluit uitdruklik politieke veldtogvoering in enige vorm in, soos die vertoon van partylogo’s, klere of veldtogmateriaal,” verduidelik Johnson.

Volgens Johnson glo die party dat skole veilige, neutrale ruimtes vir leer moet bly, vry van politieke inmenging en uitbuiting.

“Die PA se optrede is ’n blatante skending van die wet en ’n roekelose politisering van ’n skoolomgewing. Skole is bedoel om sentrums van onderrig te wees, nie platforms vir verkiesingsveldtogte nie.

“Die DA in die Wes-Kaap doen ’n beroep op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om hierdie voorval dringend te ondersoek.

“Ons sal voortgaan om die integriteit van ons skole te verdedig teen enige pogings van politieke partye om dit te misbruik vir eie politieke gewin.”

Wat die klere betref, kan ons nie vir ons lede voorskryf wanneer hulle hul regalia mag en nie mag dra nie. Hulle is almal trotse lede van die party.

Bernado Maralack, die PA se veldtogbestuurder in Drakenstein, het by navraag ontken dat die aktiwiteite enigsins polities van aard was.

“Die PA het ‘n nood by die betrokke skool geïdentifiseer en die skenking gemaak. Dit was glad nie ‘n politieke veldtog soos deur die DA beskryf nie.

“Wat die klere betref, kan ons nie vir ons lede voorskryf wanneer hulle hul regalia mag en nie mag dra nie. Hulle is almal trotse lede van die party.”

Volgens Maralack het ook die DA glo ook onlangs soortgelyke skenkings by ‘n skool in Velddrif aan die Weskus gedoen.

“Dit was tydens die tussenverkiesing in daardie gebied. Hul lede het ook skenkings by ‘n skool gaan doen, noudat die PA dit doen, is dit skielik ‘n probleem en onwettig.

“Terloops, hierdie einste skool in die Paarl is in ‘n DA-beheerde wyk. Hierdie wyk, soos alle ander, kry jaarliks meer as R200 000 as begrotingsgeld, maar ons sien nie hoe skole en ons kinders daarby baat vind nie.

“Die DA besef dat die PA sy grootste bedreiging is en daarom sal hulle elke geleentheid gebruik om die party te diskrediteer,” het Maralack gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article