KIMBERLEY – Die Congress of the People (Cope) het ‘n dringende beroep op die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Velenkosini Hlabisa, gedoen om in te gryp in die voortslepende administratiewe onmin by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley.
In ’n formele skrywe op 11 Mei het Pakes Dikgetsi, Cope se waarnemende nasionale voorsitter, kritiek uitgespreek oor die Noord-Kaapse provinsiale regering se hantering van die situasie.
Die geskil spruit uit die besluit van Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, om die munisipaliteit ingevolge Artikel 139(1)(b) van die Grondwet onder administrasie te plaas.
Hierdie ingryping, ingevolge Artikel 139(1)(b) van die Grondwet, is genoodsaak deur ‘n “algehele ineenstorting in die verhouding tussen die munisipaliteit se politieke leierskap en sy administrasie,” aldus Vass.
Onmin kring uit
Die sesmaandelange oorname is volgens Vass nodig om noodsaaklike dienste soos water, sanitasie en akkurate rekeningbepaling te herstel voor die komende plaaslike regeringsverkiesings op 4 November.
Sy besluit het egter onmiddellik politieke verdeeldheid en onmin veroorsaak, met die DA wat die stap as ‘n “outoritêre, eensydige besluit” veroordeel het, terwyl die ANC hul volle steun en vertroue in die proses uitgespreek het.
LEES OOK: Provincial oversight turns to litigation: Coghsta takes Sol Plaatje to high court
Vrae het ook ontstaan oor die integriteit van die aangestelde administrateurs, spesifiek Winston Modisa Moyahi, wat voorheen weens bewerings van bedrog en korrupsie in hegtenis geneem is, en Joseph Mekgwe, wat na bewering voorheen by grootskaalse ongemagtigde uitgawes by die wetgewer betrek is.
Intussen het Vass ’n hofaansoek gebring om ‘n vorige spesiale virtuele raadsvergadering van 17 April as onwettig te verklaar om verdere “wetteloosheid” te stuit. Die Sol Plaatje-munisipaliteit weier om die administrasie te aanvaar en voer aan dat die teenwoordigheid van die provinsiale verteenwoordigers ongrondwetlik is terwyl die regsproses voortduur. Die munisipaliteit het selfs gedreig met dringende regstappe en persoonlike kostebevele indien die provinsiale span nie teen 12 Mei hul uitvoerende funksies opskort nie.
Inwoners verdien meer
Volgens Dikgetsi is daar ’n “redelike vrees” dat die provinsiale ingryping nie gemik is op die herstel van dienslewering nie, maar eerder deur “uiterste politieke oorwegings” gedryf word.
Hy voer aan die provinsiale administrasie is in ʼn regstryd met die munisipaliteit gewikkel om ’n raadsbesluit om te keer, ’n optrede wat hy as “vyandig” beskryf en wat volgens hom die institusionele integriteit van plaaslike regering ondermyn.
LEES OOK: LUR salig ‘onbewus’ van sy administrateur se strafregtelike aanklagte
Dikgetsi sê die Grondwet (Artikel 154) vereis dat nasionale en provinsiale regerings munisipaliteite moet ondersteun en versterk voordat drastiese ingryping gebeur. Cope voer aan daar is min bewyse dat sodanige ondersteuning of bemiddeling plaasgevind het.
Hy vind dit betreurenswaardig dat sy brief in Januarie aan die minister oor die “verslegtende bestuurskrisis” en onwettige politieke inmenging destyds geïgnoreer is.
Cope versoek die minister om goedkeuring van die Artikel 139-ingryping terug te hou hangende ’n onafhanklike hersiening. Voort versoek hy dringende nasionale bemiddeling en dat stabiliseringsmaatreëls ingestel word.
Hy eis dat die munisipaliteit beskerm word teen verdere administratiewe ontwringing.
“Die inwoners van Sol Plaatje-munisipaliteit verdien wetlike bestuur, institusionele stabiliteit en ononderbroke dienslewering,” sê Dikgetsi.






