Serah Sitwayi (49) van Worcester pronk met haar nuwe bril wat sy die week by die Phelophepa- gesondheidsorgtrein se oogkliniek ontvang het.

Treinkliniek by Worcester-stasie lok groot getalle inwoners

Serah Sitwayi (49) van Worcester pronk met haar nuwe bril wat sy die week by die Phelophepa- gesondheidsorgtrein se oogkliniek ontvang het.

Inwoners van Worcester en omliggende gebiede stroom sedert Dinsdag (8 September) in groot getalle na die Phelophepa-gesondheidsorgtrein, wat tans by die Worcester-stasie staan.

Die Phelophepa-­gesondheidsorgtrein is ‘n mobiele mediese kliniek waar primêre gesondheidsorgdienste oor Suid-Afrika heen gelewer word.

Die trein, wat veronderstel was om van Maandag (7 September) gesondheidsorgdienste aan kwesbare plaaslike inwoners te lewer, kon weens ‘n vertraging eers Dinsdag (8 September) met hierdie dienste begin.

Dr. Thabiso Manamela, wat aan hoof van die Phelophepa-gesondheidstrein is, sê noodsaaklike dienste gaan tot 18 September aan behoeftiges gelewer word.

Hy sê die trein is met gesondheids-, oogsorg- en tandheelkundeklinieke toegerus.

Benewens sielkundige dienste wat gelewer word, beskik die trein ook oor ‘n apteek aan boord.

Volgens hom word ‘n algemene mediese ondersoek vir akute toestande by die gesondheidsorgkliniek gedoen.

Manamela sê indien bevind word dat die pasiënt moontlik ‘n akute toestand soos hipertensie, diabetes of hoë cholesterol onder lede het, sal die betrokke pasiënt vir verdere behandeling na die plaaslike hospitaal verwys word.

Volgens hom word terapie vir paartjies, individue en groepe by die ­sielkunde-kliniek aangebied.

Hy sê die mobiele kliniek doen egter nie psigometriese assesserings nie.

Manamela voeg by hulle sien ‘n toename van mense met geestesgesond- heidsprobleme wat by die mobiele kliniek om hulp aanklop.

Hy sê ‘n besoek aan die gesondheidsorgkliniek gaan pasiënte R5 kos. Ondersoeke met betrekking tot bors- en prostaatkanker is gratis. ‘n Papsmeer is ook gratis.

Diegene wat die oogsorgkliniek besoek, moet voorts R30 vir ‘n bril opdok.

Hy sê indien pasiënte medikasie benodig, moet hulle R5 ekstra betaal.

Volgens Manamela betaal pasiënte voorts R10 vir ‘n besoek aan die tandheelkunde-kliniek en R5 ekstra indien hulle medikasie benodig.

Sielkundige dienste is gratis.

Manamela sê die betaalde gesondheidsorgdienste is gratis vir diegene jonger as 16 jaar.

Volgens hom beskik die gesondheidsorgtrein oor altesame 22 gesondheids- werkers. Hulle werk op die trein volgens die beginsel van “eerste daar, eerste gehelp”.

Hy sê hul teiken is om na altesaam 1500 pasiënte per week om te sien.

Serah Sitwayi (49) van Worcester het Dinsdag (8 September) met ‘n groot glimlag met twee paar splinternuwe brille van die Phelophepa-gesondheidsorgtrein weggestap.

Pasiënte wag om by die Phelophepa-gesondheidsorgtrein gehelp te word. Foto’s: Enrico Claassen

Volgens Sitwayi het sy in 2001 ‘n besering aan haar regteroog opgedoen.

Sy sê as gevolg van die besering sukkel sy al vir jare om behoorlik te kan lees.

“Ek is baie lief vir lees, dus was dit vir my baie frustrerend om nie behoorlik te kan lees nie.

“Nou kan ek lekker lees. Ek voel trots op my nuwe bril.”

Sitwayi sê toe sy Maandagaand (7 September) klaargemaak het by die werk, het sy op die grond voor die stasiegebou kom slaap sodat sy betyds gehelp kan word.

Mercia Volkwyn (46), ook van Worcester, het Dinsdag die tandheel­kunde-kliniek by die gesondheidsorgtrein besoek om haar tande te laat skoonmaak.

“My tande het grof begin voel. Tande borsel alleen maak nie ‘n mens se tande heeltemal skoon nie. My tande voel nou glad en skoon.”

Volkwyn sê sy het Maandagaand vroeg vir haar ‘n bed voor die stasiegebou gemaak om betyds gehelp te word.

Manamela sê daar is reeds skole in Worcester geïdentifiseer waar die Phelophepa-gesondheidsorgwerkers uitreikprogramme gaan aanbied.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article