Worcester Senior Sekondêre Skool in Worcester is op sy knieë oor die skool wat sedert die begin van die skooljaar tot nou onder altesame 15 inbrake en voorvalle van vandalisme deurgeloop het.
Hierdie euwel het die skool in hierdie tydperk reeds tot R200 000 in herstelkostes uit die sak gejaag. Die jongste voorval van vandalisme by die skool was voorverlede naweek.
Sammy Horne, die waarnemende skoolhoof, sê die inbrake en vandalisme vind veral oor naweke plaas. Hy sê kabeldiefstal by die skool is ‘n groot kopseer.
Horne sê die diefstal van kabels laat leeders en opvoeders soms vir dae sonder toegang tot die internet.
Volgens Horne is altesame tien klaskamerdeure reeds oopgeskop. Hy sê as voorsorgmaatreël het die skool staalveiligheidshekke voor elke klaskamerdeur aangebring, maar selfs dit stuit die booswigte steeds nie.
Veiligheidshekke oopgedwing
Volgens hom dwing die boosdoeners die veiligheidshekke oop om toegang tot klaskamers te verkry. Hy sê tot die onderwysers se lêers loop deur, want die skelms is op soek na aluminium.
Horne sê die diewe steel van dak-kappe, waterafvoerpype en geute tot gloeilampe wat veronderstel is om die skool van buite te belig.
“Ons benodig ‘n hoëmas-lig wat die hele skoolperseel kan belig. Hiervoor benodig ons rolspelers.”
Vyf lugverkoelers al gesteel
Hy sê voorts vyf lugverkoelers is reeds by die skool gesteel.
“Van die lugverkoelers is veronderstel om die rekenaars koel te hou.
“Ons kan nie meer bekostig om dit [lugverkoelers] aanhoudend te koop nie. Ons sit nou maar sonder dit.”
Volgens Horne word selfs die plastiek-waterkraan-koppe by die skool afgesteel. Hy sê die skool is nou genoop om aan die einde van elke skooldag die krane te verwyder. Soggens word dit weer teruggeplaas.
“Hulle het selfs die stoppers by die krane begin afsteel. Al wat koperpypie is – al is dit hoe klein – word gesteel.
“Ons moet dikwels tot diep onder in die grond grawe om daardie [water] pyp te herstel, want soveel water gaan verlore. Die stopkraan moet nou ná skool toegedraai word.
Horne sê sowat vier jaar gelede is altesame 36 skootrekenaars by die skool gesteel. Volgens hom word die rekenaars tans in ‘n kluis gestoor. Hy sê die versekering weier om uit te betaal omdat die skool ‘n hoë risiko is.
“Ons het ‘n sekuriteitsmaatskappy wat ons bystaan, maar in baie gevalle is hulle op patrollie of by hul basis.
“Wanneer hulle in die geval van ‘n inbraak by die skool aankom, is die skelms skoonveld.”
Horne sê video-materiaal van een van die vorige voorvalle van vandalisme by die skool wys dat een van die booswigte ‘n oud-leerder van die skool is.
Volgens hom was die booswig ten tyde van die opname besig om dak-kappe te verwyder.
Horne sê wat gerusstellend is, is dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) in die skoolvakansie veiligheidswagte by die skool ontplooi, wat 24 uur per dag diens doen. Hy loof ook die gemeenskap wat gereeld ‘n ogie oor die skool hou en hom dan van enige onwettige bedrywighede laat weet .
Millicent Merton, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sê die Veilige Skole-inbelsentrum het geen verslae van die skool oor die afgelope 12 maande ontvang nie.
Volgens haar het die Veilige Skole-kantoor in die Kaapse Wynlande-distrik ook aangedui dat hulle nie bewus is van die talle inbrake nie.
Merton sê ‘n amptenaar van Veilige Skole sal die skool besoek en die skool dienooreenkomstig adviseer en ondersteun.
Konst. Ndakhe Gwala, ‘n polisiewoordvoerder, sê die Worcester-polisie het sigbaarheid in die gebied verhoog om verdere voorvalle te voorkom.
Sy sê die gemeenskap word aangemoedig om enige verdagte aktiwiteite aan die sektorbevelvoerder, AO Anneline Fillies-Mentoor, by 079 894 1494 aan te meld, of alternatiewelik die Worcester-polisiekantoor by 023 348 8605/03 te bel.





