Veldtog moedig ouers aan om kinders teen masels in te ent

Op Dinsdag 8 September het die ouers van 120 jong kinders hulle na die De Doorns-kliniek geneem om hul aanvullings-dosis van die masels-inenting te kry.

Veldtog moedig ouers aan om kinders teen masels in te ent

Op Dinsdag 8 September het die ouers van 120 jong kinders hulle na die De Doorns-kliniek geneem om hul aanvullings-dosis van die masels-inenting te kry.

‘n Inenting kan jong kinders teen aansteeklike siektes soos masels beskerm.

Masels is hoogs aansteeklik en word geken aan die rooi uitslag wat in die haarlyn en gesig begin en daarna versprei.

‘n Paar dae voor dié duidelike tekens wys, mag ‘n kind reeds ‘n hoë koors, loopneus, hoes en rooi, waterige oë hê.

Die eerste maselsimptome wys gewoonlik eers ‘n week of twee nadat iemand besmet is.

Hoewel die siekte vir die meeste mense nie dodelik is nie, kan dit volgens die wêreldgesondheidsorganisasie ernstige komplikasies inhou vir kinders jonger as vyf jaar, swanger vroue en mense met verswakte immuunstelsels. Inentings het oor dekades heen geblyk om baie doeltreffend teen die infeksie te wees.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand moedig inwoners aan om hul kinders tussen die ouderdomme van 6 maande en 15 jaar te neem vir versterkingsinentings (booster shots) teen hierdie siekte. Die kind se inentingskaart moet saamgeneem word.

By die klinieke in die omgewing is die inenting beskikbaar op Maandae tot Vrydae van 14:00 tot 16:00. Besoekers kan van die “Fast Lane” gebruik maak waar hulle dadelik gehelp sal word.

Inentings kan ook gedoen word op Saterdag 12 September by die Avianpark-kliniek van 09:00 tot 14:00.

Boland Hospice het ‘n deur-tot-deur gemeenskapsuitreik op Dinsdag 8 September in De Doorns gehou. ‘n Mobiele kliniek sal ook in die omgewing wees op 12 en 19 September van 09:00 tot 15:00. Die inentings is ook smiddae by die De Doorns-kliniek beskikbaar.

By die Empilisweni-kliniek in Zwelethemba in Worcester is die masels-inenting beskikbaar op Maandae tot Woensdae van 16:00 tot 18:00, op 12 en 19 September van 09:00 tot 13:00 en op 16, 22, 23 en 30 September van 16:00 tot 18:00.

By die Orchard-kliniek kan kinders ingeënt word op Maandag tot Woensdag van 16:00 tot 17:00 en by die Rawsonville-kliniek ook op Maandag tot Woensdag van 16:00 tot 18:00. Op 19 September hou die departement ‘n uitreik na die VGK in De Nova van 08:30 tot 12:00.

‘n Uitreik word by die Sandhills Primary School gehou van 8 tot 11 September en inentings word ook op 12 September by die kliniek gedoen.

In Touwsrivier word masels-inentings op 9, 10, 14 en 15 September van 16:00 tot 19:00 gedoen en by die gemeenskapsdagsorgsentrum in Worcester is die enting beskikbaar in die “Fast Lane”, Maandae tot Donderdae van 16:00 tot 19:00.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article