Gevaarlike weersomstandighede in die Kaapse Wynland het tot noodontruimings en wydverspreide diensonderbrekings in die Breedevallei munisipale gebied gelei.
Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens vroeër ‘n vlak 8-waarskuwing vir swaar reënval en vlak 5- waarskuwing vir sterk wind vanaf 10 tot 12 Mei 2026 uitgereik het, wat reeds Maandagoggend gevaarlike toestande regdeur die gebied skep.
Noodontruimings aan die gang
Die munisipaliteit se Rampbestuurspan het Maandagmiddag noodontruimings by Spokiesdorp informele nedersetting in Rawsonville begin, waar oorstromings inwoners geraak het. Noodskuilings is geaktiveer en ondersteuningsdienste gemobiliseer.
Skenkings vir nie-bederfbare kos, noodsaaklike higiëne produkte en onmiddellike skuiling materiale kan by die Brand- en Rampsentrum in Rouxstraat, Worcester afgegee word.
Groot vervoeronderbreking
Die N1 snelweg by Du Toitskloof Lodge is in albei rigtings gesluit weens ‘n modderstorting. Die Hugenote-tolplaza en -tonnel is ook gesluit vir verkeer, wat motoriste dwing om alternatiewe roetes te soek. Munisipale amptenare dring daarop aan dat inwoners onnodige reise vermy en uiterste versigtigheid op padnetwerke uitoefen.
LEES OOK: Paaie gesluit ná stormweer, kragonderbrekings ook aangemeld
Talle paaie in die gebied is weens omgewaaide bome, omgekantelde vragmotors en materiale wat van strukture afgewaai het, versper. Water wat by stormwaterstelsels opdam, het ook oorstromings by aangrensende eiendomme veroorsaak.
Wydverspreide kragonderbrekings
Die stormwind het verskeie kragonderbrekings oor beide die munisipaliteit en Eskom-verspreidingsnetwerke veroorsaak wat tans al die munisipaliteit se dorpe affekteer, nadat ontwortelde bome elektriese infrastruktuur, pale, straatligte en oorhoofse kabels beskadig het.
Munisipale spanne prioritiseer gebiedsfout-herstelwerk voordat hulle individuele netwerkklagtes sal begin aanspreek. Eskom hanteer gebiedsfoute in De Doorns, Rawsonville en Touwsrivier.
Die munisipaliteit het gewaarsku dat herhalende foute hoogs waarskynlik is onder huidige weersomstandighede, met uitdagende toestande wat hersteloperasies bemoeilik.
Watervoorsiening geraak
Swaar reënval het modder- en rotsstortings in opvanggebiede en opgaardamme veroorsaak, wat oormatige vlakke van modder, slik en organiese residu in die waternetwerk tot gevolg het. Inwoners kan verkleurde of bruin drinkwater opmerk.
Die munisipaliteit het inwoners verseker dat waterkwaliteit voortdurend getoets en behandel word om veilige verbruik te verseker. Die verkleuring stabiliseer gewoonlik binne 14 tot 21 dae, afhangende van weersomstandighede.
Watervoorsiening en behandelingsnetwerke bly ongeskonde en ten volle operasioneel, met spanne op hoë waaksaamheid vir diensonderbrekings.
Diensopskorting en kantoorsluiting
Vullisverwydering is opgeskort vir Dinsdag, 12 Mei, met ‘n hersiene insamelingsskedule wat om 18:30 aangekondig sal word.
Alle munisipale administratiewe kantore bly gesluit op Dinsdag weens voortdurende gure weersomstandighede, hoewel noodsaaklike diensspanne operasies sal voortsit. Normale operasies hervat Woensdag, 13 Mei.
Rioolstelsel onder druk
Aanhoudende reënval veroorsaak hoër vlakke van stormwater indringing in rioolnetwerke, wat die risiko van rioolstortings in brandpuntgebiede verhoog. Spanne monitor die situasie en sal op klagtes reageer soos beskikbare hulpbronne dit toelaat.
Rampreaksie maatreëls
Die munisipaliteit se brand- en rampbestuurspan is op hoë waaksaamheid geplaas met nodige hulpbronne wat voorbereid is op groot insidente. Sandsakkies is gereed om versprei te word na areas waar gelokaliseerde oorstromings mag voorkom.
Die rampspan monitor vloedrisiko-areas om die klok, insluitend riviere en laagwaterbruë. Noodtoerusting insluitend graafmasjienlaaiers, bemanningsvoertuie en watertenks is op bystand.
Veiligheidswaarskuwings
Munisipale owerhede het sterk waarskuwings uitgereik vir inwoners om waaksaam te bly rondom oorhoofse elektriese kabels en kraglyne, veral dié wat weens ontgure weersomstandighede losgekom of omgeval het. Inwoners mag nie enige elektriese infrastruktuur aanraak, skuif of mee peuter nie weens die risko van ernstige beserings wat dit mag meebring.
Die munisipaliteit het inwoners gemaan om uiters versigtig te wees in die stormagtige weerstoestande om skade te verminder en verlies aan lewe te voorkom.
In geval van nood
- Diensonderbrekings: 0860 12 12 12
- Noodnommers: 023 342 2430, 107 (vaste lyn) of 112 (selfoon)
Opdaterings is beskikbaar op die munisipaliteit se Facebook-blad en BVM se digitale burgerdeelname toepassing (app).
Lees die volledige verklaring in Engels hier.





