MONTAGU – Robertson Town, tans die Boland-rugbyunie se klubkampioen, het die afgelope Saterdag (5 Julie) min moeite ondervind om Villagers Montagu (Sesdium), in ‘n Grootuitdaagligawedstryd 31-13 te verslaan.
Dié wedstryd is op die King Edward-sportterrein in Montagu gespeel. Sesduim was van meet af onder geweldige druk en het veral in die skrums les opgesê.
Town het ná ‘n indrukwekkende skrum eerste bloed geruik toe Marco Jones (agtsteman) die bal opgetel en oor die doellyn gebars het. Colin Willemse (los- skakel) het seker gemaak van die doelskop om sy span ‘n voorsprong van 7-0 te gee.
Sowat 10 min later het Dihan van der Walt (flank) ook agter die tuisspan se doellyn gaan kuier nadat Town omkeerbesit bewerkstellig het. Willemse se doelskop was weer in die kol, waarna die besoekers se voorsprong na 14-0 gerek het. Net voor rustyd het die besoekers se ander kantman, Lorenzo Baardman, ‘n aanval met ‘n drie afgerond nadat Jennowil April Sesduim se verdediging oorhoops gehad het. Hierdie keer het Willemse die teiken gemis, maar dié onverdoelde drie het teen rustyd aan Town ‘n gerieflike voorsprong van 19-0 besorg.
Sesduim het in die tweede helfte teruggeveg. Eers het Liam Pekeur (regtervleuel) ‘n strafdoel deur die pale gejaag, Daarna het Nelian Terblanché (losskakel) ‘n bal, wat ná ‘n skop in niemands- land beland het, opgepik en oorgeval vir ‘n drie. Dit het die telling na 19-8 geneem.
Maar toe draai Town die skroewe net stywer vas. Runé Lucas (linkervleuel) het Sesduim se verdediging oopgekloof en Van der Walt in staat gestel om sy tweede drie te druk. Adriano Conradie (plaasvervanger-los- skakel) se doelskop was in die kol en het die telling na 26-8 geneem. Town het nou ‘n ystergreep op die wedstryd gehad, terwyl Sesduim gespartel het om meer punte op die telbord te kry.
Kort hierna het Town Sesduim se lugtoevoer bykans afgesny toe Esteban van der Merwe (regter- vleuel) vir die besoekers se bonuspuntdrie in die regterhoek oor is.
Sesduim, wie se doppie as’t ware al in die eerste helfte geklink is, het steeds moedig probeer en is net voor die eind-fluitjie met ‘n troosdrie beloon toe sy slot Asisipho Jucwa gaan druk het.
Dit het die eindtelling op 31-13 in Town se guns te staan gebring. – Norman Evertson





