Liam Pekeur, die linkervleuel van Villagers Montagu, probeer van Robertson Rangers-verdedigers wegkom. Aan sy linkerkant is Tyrique Kleyn (skrumskakel) gereed vir ondersteuning. Pekeur, wat uithalerspel gelewer het, het twee drieë gedruk en ‘n doelskop deur die pale gestuur, watsy persoonlike bydrae op 24 punte te stgaan gebring het. Foto: Norman Evertson

Norman Evertson

MONTAGU – Villagers Montagu, oftewel Sesduim, het waarskynlik sy les geleer – en dit is: In ‘n wedstryd moet ‘n span sy geleenthede vir punte gebruik. Dit was op die ou einde die deurslaggewende faktor in sy naelskraapse sege van 36-35 in sy eersteronde-Grootuidaagbeker-kragmeting teen ‘n begeesterse Rangers-span.

Tussen Liam Pekeur (linkervleuel) en Lee van Oordt (losskakel) het hulle altesaam 24 punte danksy agt strafskoppe (vier elk) aangeteken.

Pekeur, wat uithalerspel gelewer het, het ook twee drieë gedruk en ‘n doelskop deur die pale gestuur vir ‘n persoonlike bydrae van 24 punte.

Eerste drie binne twee minute

Rangers het egter dié kragmeting soos ‘n weghol-veldbrand begin toe Derlin Marinus (linkervleuel) binne die eerste twee minute gaan druk en sy span met die telling 5-0 op die voorvoet geplaas het.

Sesduim het met ‘n strafdoel deur Pekeur geantwoord, maar daarna het Juan Johnson (losskakel) met twee strafdoele vir Robertson Rangers geslaag, wat die besoekers se voorsprong 11-3 gemaak het.

Pekeur het minute later sy span se agterstand met nog ‘n suksesvolle strafdoel na 6-11 verklein.

Kort hierna het Sesduim die voortou geneem met die telling 13-11 en teen rustyd was die telling op 19-11 vir Sesduim.

Ná die blaaskans het Sesduim sy voorsprong vergroot toe Pekeur sy tweede drie gedruk het.

Rangers het toe begin terugveg en Simon du Toit het twee keer agter die pale gedruk en spoedig was die telling byna kop-aan-kop met 24-21 vir Sesduim.

Sesduim was egter vasberade om die kragmeting te wen en het die momentum met drie agtereenvolgende strafdoele deur Van Oordt in sy guns geswaai.

Rangers, wat desperaat was om van die onderpunt van die Breë-Langeberg-Grootuitdaagbeker-punteleer weg te kom, het met ‘n geweldige eindpoging vorendag gekom, wat Du Toit in staat gestel het om sy derde drie agter die tuispan se doellyn te plant. Johnson het verdoel, maar dit was helaas te min en te laat – die eindtelling was 36-35 in Sesduim se guns.

Ondanks die naelskraapse nederlaag kry Rangers nogtans twee waardevolle bonuspunte uit die kragmeting – een vir vier drieë en een omdat hy met minder as sewe punte verloor het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article