Die joernalis Lourensa Eckhard het ‘n paneelbespreking gelei met Jaco Minnaar, die president van AgriSA, prof. Johan Kirsten en die politieke-ontleder Piet Croucamp waar kwessies wat landbou vandag raak deurtrap is. Foto: Agri Wes-Kaap

Die stand van landbou en uitdagings in sy pad was van die gespreksonderwerpe tydens Agri Wes-Kaap se jaarkongres wat by Goudini buite Rawsonville gehou is.

Drie faktore wat landbou in die toekoms gaan raak is, volgens Johann Kotzé, hoofuitvoerendebeampte van AgriSA, populasiegroei, verstedeliking en handelsklimaat. Die skerp styging in die groei van die wêreldpopulasie onderstreep die belangrikheid van kosprodusente, het hy gesê. “Die voorspelling is dat mense sal aanhou migreer na waar daar kos is. Verstedeliking bring uitdagings mee soos verspreiding van siektes soos ons met bek-en-klouseer en Afrika-varkgriep gesien het. Mense produseer minder maar gebruik meer.”

Hoewel die huidige handelsklimaat as chaoties bestempel word, sê Kotzé dat boere daaraan gewoond moet gaan raak en voorberei. Hy het verwys na die Amerikaanse president, Donald Trump se tariewe asook die koms van kunsmatige intelligensie en data wat landbou se besluitneming gaan dryf.

In die lig van die tema “Die krag van verbintenis” is daar gepraat oor die verhouding tussen landbou en die regering, sowel as tussen boere en organisasies self.

Landbou het ‘n groot impak om maatskaplike stabiliteit te verseker. “Daar is sowat 40 000 kommersiële boere en ons skat dat soveel as 6 miljoen werkgeleenthede wat geskep word nie formeel erken word nie,” het hy gesê.

Sowat vyftig present van alle uitvoere beweeg deur die Wes-Kaap.

Agri Wes-Kaap het hulde gebring aan landbou-verenigings wat ouer as ‘n honderd jaar is. Hulle is die verenigings van Kaapse Vlakte en Distrik (1885), Montagu (1883), Franschhoek (1915), Graafwater (1922), Hopefield (1925), Sneeuberg (1917) en Philadelphia (1925).

John Steenhuisen, die minister van landbou, het gesê dat verbintenis nog nooit nodiger was as nou nie. “Organisies soos hierdie is belangrik en in ‘n strategiese vennootskap met die regering. “Agri Wes-Kaap was instrumenteel om ‘n model te hê wat wys wat is moontlik wanneer die regering en organisasies soos hierdie saamwerk.”

John Steenhuisen
John Steenhuisen, die minister van landbou, het gesê dat verbintenis tussen organisasies en die regering ‘n belangrike rol speel. Foto: Agri Wes-Kaap

“Ons ondersteuning moet kommersiële boere in staat stel om te kan kompeteer in internasionale markte en waardekettings. Hulle moet ook werk kan skep.”

Hy het gesê die herstel van infrastruktuur en marktoegang is prioriteite vir sy department, met hawens vir uitvoer wat een van die beperkinge is.

Die bedrywe wat deur die Amerikaanse tariewe geraak word sluit in tafeldruiwe, wyn, volstruisleer en neute. “Die gebruik van tariewe om ander mikpunte te bereik, is vir die hele wêreld nuut. Dit is ons toekoms vir ten minste die volgende vier jaar,” het Steenhuisen gesê. Hy het genoem dat die regering se derde aanbod vir handelstariewe hierdie week aan die Amerikaanse regering gestuur is.

Hy het op ‘n ligter noot vertel wat agter die skerms gebeur het tydens sy besoek aan die Withuis.

Tydens ‘n paneelbespreking onder leiding die joernalis Lourensa Eckhard, het Jaco Minnaar Kotzé, prof. Johan Kirsten en die politieke-ontleder Piet Croucamp kwessies wat landbou vandag raak deurtrap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article